Matthy Zondagh (39) van Kloof in Durban, KwaZulu-Natal is skuldig bevind op meer as 1 000 aanklagte van die besit van kinderpornografie.
“Zondagh het in die Pinetown-streekshof skuldig gepleit op 1 132 aanklagte van die besit van kinderpornografie,” het lt. Ngobile Gwala, woordvoerder van die polisie, gesê.
Lede van die polisie se Project Spiderweb het ʼn wenk ontvang en beamptes het ʼn klopjag gedoen by Zondagh se huis op 23 April 2015. “Beamptes het beslag gelê op ʼn geheuestokkie wat foto’s van kinderpornografie bevat het. Hy is in hegtenis geneem en aangekla.”
Volgens Gwala het Zondagh ʼn paar keer die afgelope jaar in die hof verskyn. “Hy is ʼn boete van R30 000 en 10 jaar tronkstraf, wat vir vyf jaar opgeskort is, opgelê.”
Lt.genl. Mmamonnye Ngobeni, provinsiale kommissaris, het ouers gemaan om fyn dop te hou met wie hul kinders op sosialemedia-netwerke kommunikeer, waaroor hulle gesels en watter foto’s hulle aanstuur.