Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Madonsela: ‘Zuma se bevoegdheid nie my besluit’

$
0
0

Thuli Madonsela. Foto: Werner Beukes/SAPA

Thuli Madonsela. Foto: Werner Beukes/SAPA

Thuli Madonsela, die openbare beskermer (OB), het Donderdag gesê sy wil nie betrokke raak by die openbare debat of pres. Jacob Zuma geskik is om sy amp te beklee nie.

“Dit is nie my plek om te bepaal of die president geskik is om sy amp te beklee nie. My werk was om die publiek van onbehoorlike optrede te beskerm deur eerstens te bepaal of iemand se optrede wel onbehoorlik was en tweedens, hoe dit reggestel moet word,” het Madonsela gesê.

“Dit is wat ek gedoen het en nou het die konstitusionele hof bevind dat ek my werk behoorlik gedoen het. Die res van die werk behoort aan iemand anders. Dit is in dié stadium genoeg om te sê dat die konstitusionele hof in hierdie geval bevind het dat die president en die parlement versuim het om die grondwet te handhaaf.”

Madonsela het tydens ʼn mediakonferensie by haar kantoor in Pretoria gereageer op die konstitusionele hof se bevinding dat Zuma persoonlik ʼn gedeelte van die staatsgeld wat aan nie-sekuriteitsopgraderings by sy private Nkandla-woning bestee is, moet terugbetaal.

Sy het gesê sy glo dat Suid-Afrikaners se geloof in die grondwet deur die hof se bevinding oor die omstrede Nkandla-sage herstel is. “Vandag is die dag wat die konstitusionele hof hoop in die grondwetlike droom van elke Gogo Dlamini daarbuite herstel het wat op die OB moet staatmaak om die regering aanspreeklik te hou vir onbehoorlike gedrag,” het sy gesê.

Madonsela het ook gepraat oor haar termyn as OB wat in Oktober tot ʼn einde kom deur te sê haar hoop is op volhoubaarheid. “Die OB as persoon kom en gaan. Maar die OB as ʼn instansie gaan nooit nie. Inteendeel, die OB as instansie het verlede jaar 20 jaar van uitnemendheid gevier. As ʼn span is ons oortuig dat hierdie kantoor net van krag tot krag gaan sedert sy deur in 1995 geopen het.”

“Ek wil graag glo dat die volgende OB nog baie beter gaan vaar as wat ons gedoen het. Hy of sy gaan dieselfde span erf waarmee ek gewerk het. Dit is dieselfde span wat al die sake ondersoek het en die antwoorde gevind het waarvan ek uiteindelik eienaarskap geneem het en aan die publiek as my besluite voorgelê het.”

Hoofregter Mogoeng Mogoeng het Donderdag in sy uitspraak gesê as die nakoming van die OB se voorgestelde regstellende stappe nie bindend is nie, is dit onverstaanbaar hoe die OB effektief sal wees in die uitvoer van haar pligte om Suid-Afrika se demokrasie te versterk.

Lees alle vorige berigte oor Nkandla op Maroela Media.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Latest Images