
Die NWU se Potchefstroomkampus. Foto: NWU Pukke/Facebook
Die vise-kanselier van die Noordwes-Universiteit, prof. Dan Kgwadi, het Donderdag tydens ʼn perskonferensie in Johannesburg gesê hoewel die uiteindelike doel van die universiteit se nuwe strategie positief sal wees ter wille van belyning, kan die bestuur nie die moontlikheid van werksverliese uitsluit nie.
Die raad van die universiteit het in November 2015 die nuwe strategie goedgekeur. “ ʼn Gedeelte van die strategie sluit in ʼn herstruktureringsprojek ten einde te verseker dat die struktuur die implementering van die goedgekeurde strategie moontlik maak. As deel van die proses is daar vandag artikel 189A-kennisgewings aan alle personeel in terme van die Wet op Arbeidsverhoudinge, uitgereik,” het Kgwadi gesê.
“Terwyl die primêre doel van die herstruktureringsproses is om ons strategie vorentoe te neem, kan ons nie in die proses die moontlikheid van werksverliese uitsluit nie, en om hierdie rede tree ons op ʼn omsigtige en verantwoordelike wyse op, deur sodanige kennisgewings uit te reik.
Die herstrukturering van die NWU behels dat die universiteit beweeg van ʼn federale model na ʼn unitêre struktuur. “Die NWU het tans drie verskillende kampusse en een institusionele kantoor. Daar is ook 15 verskillende fakulteite. Elkeen van dié fakulteite het verslag gedoen aan ʼn kampusbestuur-model, wat voortaan anders daar gaan uitsien. Die unitêre struktuur gaan verseker dat daar slegs agt fakulteite gaan wees wat al drie kampusse gaan dek,” het hy gesê.
Kgwadi sê akkreditasie vir verskillende grade is voorheen vir elke kampus oorspronklik gedoen. “Dit het daartoe gelei dat ʼn sielkunde-graad nie noodwendig dieselfde akkreditasie het by twee verskillende kampusse van die NWU nie. Met die wegdoen van die duplikaat-fakulteite kan ons verseker dat akkreditasie volgens fakulteit gedoen word. Dit verseker dat jy nou sielkunde kan studeer by enige kampus van die NWU, en die akkreditasie gaan dieselfde wees.”
Dit beteken egter nie dat fakulteite gaan toemaak nie. “Daar bestaan duplikaat-fakulteite op ons kampusse. Wanneer daar byvoorbeeld tans ʼn Fakulteit Natuurwetenskappe op die NWU asook die Mahikeng-kampus is, gaan daar nou net een wees. Die een gaan nie toemaak nie, maar daar gaan voortaan net een dekaan in plaas van twee wees. Die hele proses word gedoen ter wille van belyning vir die drie kampusse.”
Hy sê die universiteit maak in dié stadium egter nog net bekend dat die implementeringsproses aan die gang gesit word, maar dat dit nog nie duidelik is hoe groot die impak daarvan gaan wees nie.
“Die doel van die herstrukturering is om te verseker dat dit wat gedeel word, soos die hulpbronne, gelyk verdeel word tussen die kampusse. Die hulpbronne gaan voortaan behoort aan ʼn fakulteit en nie ʼn universiteit nie.”
Kgwadi het egter gesê alle redelike pogings sal aangewend word om werksverliese te verhoed. “Daar gaan baie sterk gesteun word op die vise-kanselier se bestuurskorps om aandag te gee aan vrae en kwellinge.”
Hy het ook gesê die NWU is van plan om voort te gaan met die groeistategie wat die universiteit die afgelope 11 jaar ervaar het. “Die NWU is steeds op ʼn gesonde finansiële basis, maar almal van ons is bewus dat alle universiteite in Suid-Afrika finansiële stremminge ervaar ná die verwikkelinge van die ‘FeesMustFall’-veldtog en die besluit van geen verhoging in klasgeld vir 2016 nie. Ons moes reeds sekere projekte inkort, vernaamlik met betrekking tot infrastruktuurontwikkeling, ten einde die uitwerking van die afwesigheid van verhogings teen te werk.”
Hy sê hy aanvaar dat mense onseker en bekommerd sal wees oor die impak van die verandering op hul werksekerheid en ambisies. “Dit is onvermydelik want die toekoms sal anders wees. My rol en dié van die bestuur as leiers is om hierdie emosies te hanteer en om werknemers met die nodige optimisme te lei.”
Die universiteit voorsien dat die implementering van die strategie einde November 2016 voltooi sal wees sodat die universiteit in 2017 met die nuwe strategie kan begin.