Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Nuuskommentaar: Zuma byt die onderspit met lof

$
0
0
President Jacob Zuma. Foto: Ntswe Mokoena, GCIS

President Jacob Zuma. Foto: Ntswe Mokoena, GCIS

Terwyl die konstitusionele hof se Nkandla-uitspraak vir Zuma-ondersteuners ’n swaar slag sal wees, is die hof se uitspraak vir ander ’n groot riem onder die hart. Die Openbare Beskermer se bevindings is ook bindend tensy dit deur ’n bevoegde hof tersyde gestel word. In bykans enige land sou Zuma se doppie nou geklink gewees het, maar dit is Zuma en die ANC wat ter sprake is.

Nou kan daar geen twyfel meer wees nie – pres. Jacob Zuma en die parlementêre meerderheid het met die Nkandla-verslag ongrondwetlik en onwettig opgetree. Die Nhleko-foefieverslag is van die tafel geveeg en ongelukkig moet die belastingbetaler instaan vir die regskoste van die debakel.

Opsommend, hoewel dit nie in die uitspraak so uitgespel is nie, kan gesê word dat Zuma nie geskik is om as president te dien nie. Hy het immers ’n ampseed afgelê dat hy nie net die Grondwet sal gehoorsaam nie, maar die Grondwet sal beskerm. Die ANC se parlementêre koukus het skandes gemaak deur Zuma in staat te stel om nie net in die Nkandla-geval nie, maar ook elders met die Grondwet woer-woer te speel.

En dis nie sommer ’n so-so uitspraak nie. Die Grondwetkenner, prof. Pierre de Vos, het dit as briljant beskryf, terwyl ander ook meen dat die uitspraak so duidelik was dat dit nie ruimte vir vertolking laat nie.

Getrou aan sy aard het die konstitusionele hof ook ruim in sy uitspraak geïmproviseer. Die hof het byvoorbeeld die OB se voorgestelde rol saam met Tesourie om die bedrag wat Zuma persoonlik aan die staat moet terugbetaal, heeltemal weggelaat. Die hof is klaarblyklik oortuig daarvan dat die polisie onder die huidige minister nie met so ’n verantwoordelikheid toevertrou kan word nie.

Verder het die konstitusionele hof ook ’n tydraamwerk bepaal waarbinne Tesourie ’n bedrag moet bepaal wat Zuma moet terugbetaal, ’n bedrag wat die konstitusionele hof dan moet goedkeur, en dan is Zuma weer “op terme” om daardie bedrag uit sy eie sak te betaal.

Uit vorige beriggewing is bespiegel dat Zuma uit “transaksies” soos die beweerde transaksies met die Guptas wel in staat sal wees om die verwagte enorme bedrag te betaal. Daar sal nou grootoog deur onder meer die media gelet word dat Zuma nie die nodige geld bekom in ruil vir gunste nie.

Die groot vraag nou is of Zuma die skandaal kan oorleef!

As dit by die ANC kom, ongelukkig ja, hoewel sy posisie waarskynlik nou aansienlik verswak sal wees.

Die DA het reeds aangedui dat dié party gaan probeer om Zuma in ’n staat van beskuldiging te plaas, ’n proses wat teoreties tot die afdanking van Zuma kan lei.

Die ANC se parlementêre koukus kan homself nou baie verdere smaad en onbehoorlike druk spaar deur self ’n mosie van wantroue in Zuma te stel en in die parlement goedgekeur te kry. Ná die teerkwas waarmee die konstitusionele hof die parlement (lees die ANC en soms ’n klein g*tkruiperpartytjie) bygedam het, is dit bykans ondenkbaar dat enige parlementslid bereid sal wees om weer so deur die ANC aan die neus gelei te word.

Maar dis die ANC – die party wat nie fout daarmee kon vind nie dat Zuma onlangs gesê het hy is eerstens lojaal teenoor die ANC, en dan teenoor die land. Nie net strydig met sy ampseed en die Grondwet nie, maar teen enige moontlike konvensie van veelpartydemokrasie.

Tegnies is Zuma se doppie nou geklink. Maar dis Zuma en die ANC hierdie, en dit gaan bloot daartoe lei dat die magstryd verdiep.

Agter die skerms gaan meer verantwoordelike ringkoppe nou ook hul pogings verskerp om te kyk hoe Zuma uit die presidentsamp geweer kan word. Dis ’n proses, wat die insameling oor Gupta-inligting deur sekretaris-generaal Gwede Mantashe insluit, wat tyd gaan neem. Tyd wat die land nie het nie.

Al meer stemme gaan op dat Zuma ’n vrywaring van vervolging aangebied moet word in ruil vir ’n vrywillige onttrekking uit die politiek. Dit is egter nie ’n proses waaroor die ANC alleen kan besluit nie, en die instemming van alle politieke partye, burgerlike instellings en selfs individue moet gekry word om te voorkom dat iemand nie daardie ooreenkoms ook hof toe neem nie.

Die land se gewone burgers kan hulle vanaand ’n rustige nagrus gun in die wete dat die howe (nog nie) volledig deur die ANC gekaap is nie.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!