Eugene Plaatjies word aangekla van die moord op sy dogter, Anthonique, wat in Junie 2014 dood is. ʼn Nadoodse ondersoek het getoon dat byna elke been in Anthonique se lyf gebreek was toe sy dood is.
Anthonique se ma, Louise Alkaster, is aanvanklik saam met Plaatjies van die moord op hul dogter aangekla, maar die aanklagte teen haar is teruggetrek nadat sy ingestem het om teen Plaatjies te getuig. Alkaster het gedurende die verhoor aan die hof vertel dat Plaatjies Anthonique gereeld aangerand het, maar dat sy nie die mishandeling by die polisie aangemeld het nie, uit vrees vir Plaatjies.
Die paar bly in Montagu en is albei werkloos.
Regter Nolita Kose het Donderdag haar uitspraak tot 11 April uitgestel omdat ʼn ander hofsaak waarby sy betrokke is langer aangehou het as verwag is. Sy moes dié saak eers afhandel.
Die openbare galery was volgepak met familielede van Plaatjies en hulle het buite die hof hul steun aan hom bevestig.