Boy Zondi, woordvoerder van Santaco in KZN, het Donderdag gesê taxi-bedieners se twee dae lange staking is verby. Die staking en gesamentlike betoging het ingetree nadat verskeie taxi’s oor die Paasnaweek deur wetstoepassers geskut is omdat hulle nie die nodige permitte gehad het nie. Santaco kla al lank oor die probleme met die verwerking en uitreiking van taxi-permitte en het ʼn beroep op sy lede gedoen om ʼn provinsiale staking te begin wat duisende mense sonder vervoer gelaat het.
Supt. Sibonelo Mchunu, woordvoerder van die eThekwini-metropolisie, het gesê betogers het Woensdag klippe na mense en voertuie geslinger en mense is uit taxi’s geruk. Die geweld was beperk tot die Durbanse sakesentrum en die Warwick-gebied in die stad.
Zondi het Donderdagoggend gesê alle bedrywighede is terug na normaal nadat die departement van vervoer ooreengekom het om die geskutte taxi’s aan eienaars te oorhandig met die betaling van ʼn boete van R1 000 in plaas van die oorspronklike boete van R10 000.
Zondi het ook gesê dat daar ooreengekom is dat taxi’s nie weer geskut sal word oor oortredings wat verband hou met openbare vervoerpermitte nie.
Zondi het gesê die nasionale departement van vervoer het glo ʼn tien jaar lange moratorium geplaas op die uitreiking van permitte. “Hierdie kwessie gaan al te lank aan en dit is nie ons skuld nie. Die departement reik nie permitte uit nie en is nie in staat om aan die behoeftes van ʼn groeiende sektor te voorsien nie. ’n Mens hou mos nie op om geboortesertifikate uit te reik wanneer daar te veel mense is nie. Die fout is aan hulle kant omdat hulle so lank vat om die proses aan hulle kant te orden,” het hy gesê.
Daar is tans 246 taxiverenigings in die provinsie wat ongeveer 25 000 minibus-taxi’s bedryf.
Die woordvoerder van die departement van vervoer was nie beskikbaar vir kommentaar nie.