Die konstitusionele hof sal na verwagting Donderdag uitspraak lewer in die Nkandla-saak waartydens pres. Jacob Zuma ter elfder ure aangebied het om ʼn gedeelte van die staatsgeld terug te betaal wat op sy privaat woning spandeer is.
Die senior registrateursklerk by die konstitusionele hof het ʼn brief aan die partye in die saak gestuur, die Demokratiese Alliansie en die Ekonomiese Vryheidsvegters teen Zuma, om te sê dat die uitspraak om 10:00 gelewer word.
Thuli Madonsela, Openbare Beskermer, het bevind dat luukshede op staatsonkoste bygevoeg is tot die eiendom, soos ʼn swembad, hoenderhok, beeskraal en amfiteater, en dat dit nie as bykomende veiligheidskenmerke beskou kan word nie. Sy het Zuma aangesê om ʼn redelike gedeelte van die R216 miljoen terug te betaal.
Zuma het meer as ʼn jaar lank geweier om die geld terug te betaal, en die EFF en DA het hom en Baleka Mbete, speaker van die parlement, hof toe gesleep.
Lees alle vorige berigte oor Nkandla op Maroela Media.