Die burgerregte-organisasie, AfriForum, het gesê die ANC se voorgestelde Wetsontwerp op die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdade en Haatspraak voldoen aan dieselfde basiese elemente as wat die ANC in die 1970’s teen apartheid aangevoer het om dit tot ʼn misdaad teen die mensdom te verklaar.
Volgens Afriforum is die besonderhede van die wetsontwerp nog nie bekend nie, maar die ANC het reeds laat blyk die wetsontwerp se doel is om “rassisme of enige handeling wat apartheid verheerlik” te kriminaliseer en gevangenisstraf daarvoor op te lê.
Ernst Roets, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê rassisme is soos ʼn kanker wat indruis teen vreedsame naasbestaan, wedersydse erkenning en sosiale samehang en moet beveg word. “As mense egter links en regs in die tronk gegooi word, gaan dit hierdie land beslis nie nader aan ʼn oplossing bring nie,” het Roets gesê.
Roets het verduidelik dat die ANC se verklaarde doel met die wetsontwerp byna woordeliks strook met die teks van die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme, wat in 1950 deur die Nasionale Party (NP) aangeneem is. Hierdie wet en die toepassing daarvan, was een van die grootste beweegredes waarom apartheid gedurende die Koue Oorlog tot ʼn misdaad teen die mensdom verklaar is.
“Die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme het die bevordering van kommunisme gekriminaliseer en die verheerliking daarvan kon tot tronkstraf lei. Die wet is volgens die ANC ook gebruik om kritici van die regering se politieke program te snoer. Die NP-regering het aangevoer hulle doen die regte ding, aangesien hul bedoelings suiwer was en kommunisme boos is.”
Roets het gesê die ANC se wetsontwerp wil die bevordering van apartheid kriminaliseer en die verheerliking daarvan kan tot tronkstraf lei. “Hierdie wet sal ongetwyfeld ook aangewend word om kritici van die regering se politieke program te snoer. Ook hier sê die ANC dat hulle die regte ding doen, omdat hulle bedoelings suiwer en apartheid boos is.”