ʼn Motoris van Limpopo wat glo betrokke was in ʼn tref-en-trap-ongeluk waartydens ʼn verkeersbeampte gesterf het, staan nou tereg op ʼn aanklag van moord.
Akani Brendon Mgimeti (22) van Florapark in Tzaneen, het Dinsdag in die landdroshof verskyn nadat hy Sondag glo die verkeersbeampte omgery het.
“Die aanklag is van strafbare manslag na moord verander weens die ernstige omstandighede van die saak,” het Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, gesê. “Bykomende klagtes soos roekelose of nalatige bestuur en die versuim om ná ʼn ongeluk stil te hou, is ook op die klagstaat bygevoeg.”
Maroela Media het vroeër berig die 40-jarige verkeersbeampte, Buta Hector Mlondobozi, van Ritavi buite Tzaneen, het tydens ʼn Paasveldtog as ʼn puntsman opgetree om padsterftes te verminder. Hy het amptelike diens gedoen op die R36 naby die Macdonald-varsproduktemark toe hy omgery is.
Mgimeti bly in aanhouding totdat hy Vrydag formeel kan aansoek doen om borgtog.
Die polisie se ondersoek duur voort.
Lees alle vorige berigte oor die Tzaneen-verkeersbeampte op Maroela Media.