Geen enkele familie moet die lot van alle Suid-Afrikaners bepaal nie, het Pravin Gordhan, minister van finansies, Sondag gesê.
Gordhan het tydens ʼn toespraak by sy voormalige skool, Sastri College in Greyville, Durban, tydens die Meningsvormersforum wat deur die ANC gereël is, gesê is daar is ʼn “desperaatheid in moderne politiek wat mense oorhaal om ander, wat reg wil doen, te diskrediteer”.
In ʼn skynbare verwysing na die polities-verbonde Gupta-familie, het Gordhan gesê: “Geen enkele familie moet die lot van 55 miljoen Suid-Afrikaners beheer nie. Dit is ʼn verskynsel wat ‘baantjies vir boeties’ genoem word. Dit is nie uniek aan Suid-Afrika nie, maar ons het ʼn Suid-Afrikaanse formule nodig om dit op te los.”
Gordhan het gesê demokrasie kan nie opgeoffer word omdat ʼn paar mense dink hulle “besit ons lewens” nie. “Wanneer mense ander persone dreig met hul lewe [soos adjunkminister van finansies Mcebisi Jonas wanneer hulle uitpraat], moet al 55 miljoen mense opstaan en vir daardie persone vra: ‘Wat steek julle weg?’. Die massas is wyser, slimmer en meer oplettend as wat ons dink,” het hy gesê.
Gordhan het aan die volgepakte saal gesê wanneer die land uitdagings beleef soos wat tans die geval is, “moet mens aan die verlede dink, om jouself te inspireer om die regte ding te doen, om op te staan vir die regte goed, en om daardie ekstra bietjie energie te kry wat die gees van daardie tyd sal laat herleef”.
Hy het gesê alhoewel daar onlangs “depressiewe verhale” in die openbaar gedeel is, was sy bemarkingsveldtog van Suid-Afrikaanse besigheid- en arbeidsleiers en die nasionale tesourie met 265 beleggers in Londen, New York en Boston, positief en uitdagend. “Dié beleggers beheer 8 biljoen Amerikaanse dollar wat hulle in ons verbande en aandele kan belê.”
Volgens hom het hy ook baie goeie goed oor die land te sê gehad, ondanks die moeilike vrae wat hy soms tydens die bemarkingsveldtog moes hanteer. Gordhan het begrotingsdeursigtigheid, die menslike nedersettingsdepartement wat die vlak van behuising, water en elektrisiteit insluit, aangehaal as van die goeie goed wat hy met beleggers bespreek het. Hy het toegegee dat hy in sy rol as minister van samewerkende regering goeie goed gesien het, maar ook “vreeslike goed” wanneer hy munisipaliteite besoek het, soos korrupsie, tenders wat verkeerd loop en dienslewering wat nie gebeur soos dit moet om die armes te bevoordeel nie.
Volgens hom is ekonomiese transformasie ook baie moeilik, aangesien die ekonomie tot só mate moet transformeer van een wat geen rol vir swart mense gehad het nie, tot ʼn ekonomie wat ʼn 50%-rol vir swart mense bied. “Dit sal nie ʼn korttermyntaak wees nie,” het hy gesê. Hy het verwys na “rewolusionêre geduld”, ʼn begrip wat die aktivis en voormalige politikus Ben Turok gebruik het.
“Ons kan trots wees op dit wat ons gelewer het, vol vertroue na die uitdagings kyk en ʼn manier vind om dit op te los,” het Gordhan gesê. “Ons moet ook onthou dat sommige dinge langer gaan neem om op te los as ander.”
“Suid-Afrika het briljant presteer in die eerste 20 jaar van demokrasie, maar nou begin die grafiek afplat en dit sal só bly, indien die ekonomie nie groei nie. Daar is nog te veel mense wat op die grens sit. Doen ons dinge wat seker maak dat die massas sleutelbydraers word in die ekonomie? Ons het geld om die brug oor te steek. Ons moet dit net reg aanwend en seker maak dat niks lek nie.”