Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Nuuskommentaar: Menseregte en die pokerkrasie

$
0
0
Argieffoto (Foto: petja24, Pixabay)

Argieffoto (Foto: petja24, Pixabay)

Daar skuil ’n tikkie meer as ironie in die ANC se tema vir die amptelike viering van Menseregtedag vandag – “Suid-Afrika verenig teen rassisme”.

Die woord “verenig” is nie juis iets waarmee die ANC nou sterk kan smous nie, en gegewe sy rasbenepe beleid kan dit ook kwalik die toon oor rassisme aangee.

Na die naweek se ANC-NUK-vergadering word die indruk verkry van twee kampe waar die een nie behoorlik die oorhand oor die ander kan kry nie. Pres. Jacob Zuma het heel duidelik die getalle, veral in die NUK, aan sy kant. Dit kan ook nie anders nie, want byna al die lede is regstreeks of onregstreeks van Zuma (en as die jongste reeks onthullings op iets dui, die Guptas) afhanklik vir hul gemaklike bestaan.

Aan die ander kant kan Zuma en sy ringkoppe ook nie maak en breek soos hulle wil met diegene wat die rug begin styf maak het nie. Al ontken Zuma dit, het 9/12 duidelik getoon hoe die internasionale gemeenskap hulle op Zuma se eiebelang-streke kan wreek. Die rugstyfmakers hou heel duidelik ’n geweer teen Zuma se kop, maar oor genoeg spierkrag beskik nie een van die partye om die ander tot finale beslegting te dwing nie. Indien dit moontlik sou wees, sou gesê kon word die twee partye hou mekaar nou skaakmat. Of miskien is poker ’n beter vergelyking waar ’n blufspel mekaar op hul plek hou.

Die relevante gevolg is dat die land steeds met Zuma as president opgeskeep sit. Heel moontlik is sy vlerke taamlik geknip, maar die feit is dat die simboliek van dit waarvoor hy staan, steeds die beeld sal wees wat die land van buite kry.

Vir vandag is die mees relevante dat menseregte in bykans elke opsig skeefgetrek word. Menseregte, soos in die grondwet vervat, kan slegs behoorlike inhoud verkry as die owerheid hom tot die grondwet verbind – wat die handves van menseregte insluit. Baie van die uitgespelde menseregte is regstreeks van die owerheid afhanklik om inhoud te hê, soos die reg op veiligheid, taalregte en die reg op eiendom. Faal die owerhede is daardie regte so te sê niks werd nie.

Met sommige regte het die owerheid en burgery medeverantwoordelikheid. Die staat kan ’n institusionele raamwerk skep vir byvoorbeeld vroueregte, maar as individue dit bly skend beteken daardie regte maar weinig.

Ander regte, soos die reg op waardigheid, is eintlik ’n kwessie tussen mense.

’n Verbod op rassistiese optrede word op verskeie maniere deur die grondwet gevestig. Die grondwet plaas ’n verbod op onbillike diskriminasie onder meer op grond van ras. Die manier waarop die regering die “affirmative action”-klousule misbruik ondergrawe hierdie beginsel ruimskoots.

Voorts plaas die handves van menseregte ’n verbod op haatspraak, maar verskillende owerhede demonstreer ’n onwilligheid om dit ewehandig toe te pas. Kom dit van een ras, is dit haatspraak en verfoeilike rassisme waarteen hardhandig opgetree moet word. Kom dit van die ander ras, is dit vryheid van spraak.

En hierin is die ANC se hande allesbehalwe skoon. Onder appèl is “Kill the Boer, Kill the farmer”, oplaas tot haatspraak verklaar. Vandag heet die sokkerstadion in Polokwane egter na die hoofdirigent hiervan, wyle Peter Mokaba. Na die gelykheidshof Julius Malema vir soortgelyke woorde aan haatspraak skuldig bevind het, het die ANC geappelleer. Eers na Malema uit die ANC geskors is (hoofsaaklik oor sy onmin met Zuma en nie vir anti-wit-uitsprake in Zuma se teenwoordigheid nie “weens ’n gebrek aan getuienis), het die ANC buite die hof geskik.

Uit die uitsprake tot dusver is dit duidelik dat die ANC breedweg rassisme beskou as iets wat wittes teen swart mense pleeg. Dit is so dat sulke voorvalle dikwels voorkom, en waarskynlik meer dikwels as dit wat aan die groot klok gehang word. In die sosiale media is dit egter nag, en dit is moeilik om te oordeel wie is meer skuldig as die ander.

Maar kan los uitlatings van persone soos Penny Sparrow werklik opweeg teen die allesoorheersende vlakke van institusionele rasbenepenheid wat die ANC besig is om te voltrek?

Met Zuma se oorlewing word hierdie onewehandigheid in takt gehou.

En so lank as wat dit gebeur is Menseregtedag kruppel. So lank as wat die regering ideologies of in ’n slopersmentaliteit die land sy ekonomiese dryfvere beperk, so lank gaan die ekonomie stotter.

Dan beteken baie menseregte, soos kinderregte baie min omdat die staat nie die nodige geld daarvoor kan vorder nie. Gemeenskappe trek ook te noustrop om na die minder bevoorregtes om hulle om te sien.

Menseregte sal eers behoorlik inhoud kry as die owerhede die ekonomiese dryfvere loslaat om hul sterkpunte na behore te benut.

En die aanmekaar se gehamer op ras eerder as die spektrum redes vir ekonomiese ongelykheid, help nie.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!