Twee vroue, wat Vrydagaand dood is in ʼn ongeluk met die premier van KwaZulu-Natal se begeleidingsvoertuig, se gesinne sal traumaberading en ondersteuning van die Padongelukkefonds ontvang.
Premier Senzo Mchunu het Sondagaand in ʼn verklaring gesê Buyi Hadebe en Nonto Ximba se gesinne, van Empangeni in KwaZulu-Natal, sal deur die provinsiale regering ondersteun word, “om seker te maak hul geliefdes ontvang ʼn behoorlike begrafnis”.
Mchunu het dié aankondiging gemaak nadat hy met die gesinne vergader het.
Maroela Media het vroeër berig die Toyota Yaris waarin die vroue gery het, het Vrydagaand omstreeks 19:30 teen ʼn Ford Ranger-bakkie, wat deel is van Mchunu se begeleidingsvloot, op die N2-snelweg naby Zinkwazi gebots.
Twee persone wat in die blouligvoertuig gery het, het geringe beserings opgedoen. Hadebe en Ximba, albei in hul 30’s, is op die toneel dood.
Mchunu, wat amper daagliks van Empangeni reis na afsprake en sy kantoor, was nie in die blouligbrigade tydens die botsing nie en het ʼn ondersoek na die voorval geëis.
“ʼn Span beamptes van die menseregte-eenheid en die kantoor van die status van vroue en kinders in die Kantoor van die Premier, sal bystand lewer om die regering se ingryping te koördineer,” het Mchunu bygevoeg. “Die Padongelukkefonds sal die gesinne bystaan, insluitend diegene wat beseer is, om hul eise in te dien, soos deur die wet voorgeskryf word.”
Mchunu het gesê die hooffokus is om seker te maak dat die kinders van die slagoffers nie haweloos gelaat word nie en dat hulle ʼn blink toekoms sal hê. “Die Padongelukkefonds sal die eis aan die verlies van inkomste hanteer vir die kinders, aangesien hulle op hul ma’s vertrou het vir finansiële ondersteuning.
Mchunu het gesê begrafnisreëlings vir Hadebe en Ximba sal deur die loop van die week bekend gemaak word.
Lees alle vorige berigte oor KZN-blouligongeluk op Maroela Media.