Kol. Sabata Mokgwabone, provinsiale polisiewoordvoerder van Noordwes, het bevestig dat Kosmos-weg afgesper was met staalasblikke en ander voorwerpe, maar dat die pad nou weer oopgestel is. “Die polisie monitor die situasie.” Mokgwabone kon nie onmiddellik bevestig waaroor die mense betoog het nie.
Volgens onbevestigde berigte is die betogers van die nabygeleë informele nedersetting afkomstig en is hulle ongelukkig oor die aanstelling van ʼn ANC-raadslid in die area.
Volgens Marlize Snyman, ʼn besoeker aan die gebied, het sy en haar man, Casper, besluit om Sondag vir ontspanning Hartbeespoortdam toe te ry. “Waar ʼn mens in Kosmos inry was die pad afgesper. Daar het ʼn lang ry motors gestaan en toe ons uiteindelik voor kom, het ons gesien daar is een van daardie groot vierkantige asblikhouers in die pad.”
Volgens Snyman was daar ook swart vullissakke in die pad. ʼn Klomp betogers en polisiebeamptes het langs die pad gestaan. “Toe ons uiteindelik deurbeweeg het, het ons sowat vyf minute later besluit om eerder huis toe te gaan aangesien ons nie die omgewing ken nie. Met die terugkeer is daar vir ons gesê om om te draai aangesien motors met klippe gegooi word. Ons het ook rook gesien en ons het toe in die Kosmos-veiligheidsoord inbeweeg en by ʼn gastehuis gaan wag. Dit is die enigste pad om uit [Kosmos] te kom. Nou sit ons en wag om te hoor wanneer ons kan ry.”