Die presidensie het in ʼn verklaring gesê die berig wat deur Independent Newspapers gepubliseer is waarin beweer word dat Zuma dié week sy kabinet gaan verander, is van alle waarheid ontbloot.
Die berig het beweer dat Jeff Radebe, minister in die presidensie, Ebrahim Patel, minister van ekonomiese ontwikkeling, Rob Davies, minister van handel en nywerheid en dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, uit Zuma se kabinet verwyder gaan word.
“Die berig is kwaadwillig en het duidelik ten doel om onenigheid, onsekerheid en verwarring te saai. Die president se huidige fokus is om ʼn program van aksie te implementeer na aanleiding van sy staatsrede en die fiskale konsolidasie-program wat uit die begrotingsrede spruit,” het Bongani Mahola, woordvoerder van die presidensie, gesê.
Volgens Mahola het al die departemente en hul ministers opdrag gekry om op die plan van aksie te fokus. “Die poging om die nasionale uitvoerende gesag van die regering te herlei en onsekerheid te veroorsaak, word summier verwerp.”