Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici van ER24 en die Johannesburgse nooddienste het omstreeks 06:00 op die ongelukstoneel aangekom waar hulle ʼn bakkie gevind het wat teen ʼn muur gebots het in Main Reef-weg. “Die bakkie het glo eers die sypaadjie getref voordat dit teen die muur gebots het.”
Volgens Vermaak is drie kritiek beseerde pasiënte naby die wrak aangetref. ʼn Vrou, in haar 30’s, was steeds in die wrak vasgekeer. Haar liggaam moes met meganiese toerusting uit die wrak verwyder en sy is op die toneel dood verklaar.
“Terwyl paramedici die beseerdes behandel het, het hulle agtergekom dat van hul klere verwyder is. ʼn Groep mense het glo oomblikke ná die ongeluk op die toneel toegesak en die slagoffers se klere en skoene gesteel. Hulle het glo ook persoonlike items uit die wrak verwyder.”
Vermaak het gesê die beseerdes is op die toneel gestabiliseer voordat hulle na ʼn nabygeleë hospitaal vervoer is vir verdere behandeling. Die presiese oorsaak van die ongeluk word ondersoek.