
President Jacob Zuma reageer op 18 Februarie 2016 op die debat ná sy staatsrede Foto: @PresidencyZA, Twitter
Dit is die pleidooi van Mmusi Maimane, leier van die DA, op lede van die NUK wat die naweek in Pretoria vergader. “Die ANC se NUK, die party se hoogste besluitnemingsliggaam, moet pres. Zuma met onmiddellike effek herroep weens die afgelope week se plofbare onthullings deur senior ANC-lede rakende Zuma se twyfelagtige verhouding met die Gupta-familie,” het Maimane gesê.
“Die ANC kan nie voortgaan om Zuma te beskerm ten koste van die arm en nagenoeg 8,2 miljoen werklose Suid-Afrikaners nie. Suid-Afrika verdien beter. Dit word al hoe duideliker dat die ANC nie meer belangstel in die mense van Suid-Afrika nie. Hulle president is in die sak van die Guptas en hy het gevolglik die land in sy sak.”
Maimane het gesê Suid-Afrika behoort nie meer aan die mense wat hier woon nie, maar aan ʼn uitgesoekte kliek van politiek-verbonde persone. “Dit is ʼn skande dat pres. Zuma in plaas daarvan om ʼn onbaatsugtige en burgergeoriënteerde leier te wees ʼn selfdienende en kameraad-georiënteerde leier geword het, en sodoende die hoop en drome van miljoene Suid-Afrikaners wat nog wag om ʼn beter lewe te ervaar agtergelaat het.”
Maimane het gesê Zuma se naam het sinoniem geword met skandale soos Nkandla en die spioenasiebandesage. “Die ANC staan nou voor ʼn keuse. Hulle kan hul steun toesê aan pres. Zuma se skandelike aksies of hulle kan aksie neem en hom herroep en sodoende ʼn einde bring aan sy rampspoedige sewe jaar lange heerskappy.”