Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die vrou het glo ʼn brug naby Chartwell probeer oorsteek, toe ʼn sterk stroom haar motor teen die brug se versperring vasgedruk en toe in die rivier in meegesleur het.
Paramedici het Donderdag saam met die polisie en provinsiale nooddienste na die vrou begin soek, maar teen die aand moes die soektog afgelas word weens swak lig. “Die soektog is vroeg vanoggend [Vrydag] hervat, maar ongelukkig is die vrou nog nie gevind nie,” het Meiring gesê.
Die vrou se familielede en reddingspersoneel is steeds op die toneel bedrywig.
ʼn Man is verlede week in ʼn soortgelyke voorval dood nadat sy motor Donderdag deur vloedwater in die noorde van Pretoria meegesleur is. Leon Strydom se motor is op die R101 by Honingnestkrans deur die Apiesrivier meegesleur ná swaar reënval. Strydom se liggaam is Vrydag sowat 1,5 km van die brug waar sy motor vroeër uit die water getrek is, gevind.