Die vier is glo in die fliek by die Baywest Mall betrap nadat ʼn klag ontvang is van een van die fliekgangers. ʼn 18-jarige seun is glo betrap waar hy seks gehad het met ʼn 16-jarige meisie terwyl die 11-jarige meisie en ʼn 16-jarige seun glo ook besig was met ʼn seksdaad.
Kapt. Johan Rheeder, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat twee sake van verkragting ondersoek word. Hy het gesê weens die sensitiwiteit van die saak as gevolg van die kinders se ouderdomme kan hy nie verdere besonderhede oor die ondersoek bekendmaak nie.
Rheeder het vroeër gesê die saak is aan die kinderbeskermingseenheid oorhandig.
John Sikiotis, uitvoerende hoof van Ster-Kinekor, het gesê die vier jeugdiges is ná die beweerde voorval na die kantoor van die winkelsentrum se veiligheidmaatskappy geneem. Hy het gesê die polisie is ontbied asook die twee seuns se ouers en die meisies se oupas. Hy het gesê dié was die eerste voorval van sy soort in enige Ster-Kinekor-teater in die land.
Kuban Chetty, ’n prokureur van Port Elizabeth, het gesê die minimum vonnis vir die verkragting van ʼn minderjarige is lewenslange tronkstraf.