
Roger Kebble
Roger Kebble, die patriarg van die bekende mynbou-familie in Suid-Afrika, het glo selfmoord gepleeg.
Die polisie het nie sy naam bekend gemaak nie, maar slegs in ‘n kort verklaring bevestig die liggaam van ‘n man is in ‘n voertuig op die hoek van Montery- en Upper Bebbintoweg in Bishopscourt, Kaapstad, gevind. Die man het ‘n skietwond in sy kop.
Die polisie het bevestig hulle doen ‘n geregtelike doodsondersoek. “Niemand is nog in hierdie stadium in hegtenis geneem nie,” lui die verklaring.
Guy Kebble, voormalige Springbok-rugbyspeler, nou sakeman, het aan die radiojoernalis Mandy Wiener, outeur van die boek, Killing Kebble: An Underworld Exposed, bevestig sy pa het homself vanmiddag in sy motor in Kaapstad geskiet.
Hy het gesê sy pa voel al vir ‘n ruk lank nie lekker nie, en het gevoel hy raak ‘n oorlas.
Volgens hom glo hy nie daar was enige vuilspel nie.
Die polisie het gesê man was 76 jaar oud, maar volgens die Eyewitness News-radioberig was hy 78 jaar oud.
Die sakeman se ander seun, Brett Kebble, ‘n mynmagnaat en kunsversamelaar met ANC-verbintenisse, is in September 2005 doodgeskiet toe hy persone gereël het om hom te help om selfmoord te pleeg. Dít nadat sy sakebelange ineengestort en hy finansieel in die knyp was. Brett is ‘n paar keer van naby deur die voormalige uitsmyters Mikey Schultz, Faizel “Kappie” Smith en Nigel McGurk geskiet. Die drie sluipmoordenaars is vrygestel van vervolging in ruil daarvoor dat hulle sou getuig teen Glenn Agliotti, wat na bewering die sluipmoord gereël het. Agliotti is vrygespreek nadat die regter beslis het dat die staat nie die saak bo redelike twyfel kon bewys nie.