Die departement van binnelandse sake het Vrydag in ʼn verklaring bevestig Janusz Walus, die man wat Chris Hani 23 jaar gelede doodgeskiet het, is ʼn genaturaliseerde burger.
“Die departement neem kennis van berigte oor die Poolse immigrant, Janusz Walus, wat skuldig bevind is aan die moord op Chris Hani, die voormalige sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Kommuniste Party (SAKP),” het Mayihlome Tshwete, woordvoerder van die departement, gesê.
“Ons wil dit graag op rekord stel dat mnr. Walus in 1981 ʼn permanente verblyfpermit ontvang het, voor hy in 1987 deur die naturaliseringsproses burgerskap bekom het onder wetgewing deur die apartheidregering,” lui die verklaring.
Volgens Tshwete sal die departement ontwikkelinge dophou en in ʼn geskikte stadium verder kommentaar lewer.
Dit volg nadat die ANC versoek het dat Walus gedeporteer moet word nadat die hooggeregshof in Pretoria hom op parool vrygelaat het. “Die ANC eis dat Janusz Walus dadelik gedeporteer moet word na sy land van herkoms, en dat hy nooit weer na Suid-Afrika mag terugkeer nie,” het die party gesê.
Walus (63) het die kommunistiese Pole in 1981 verlaat om by sy pa en broer in Suid-Afrika aan te sluit. Hy het Hani op 10 April 1993 doodgeskiet, net ʼn jaar voordat die land se eerste demokratiese verkiesing Nelson Mandela en die ANC aan bewind gebring het.
Walus is oorspronklik die doodstraf opgelê, maar dit is tot lewenslange tronkstraf omgeskakel toe die doodstraf afgeskaf is. Sy medebeskuldigde, Clive Derby-Lewis, is in Junie 2015 op mediese parool vrygelaat.