Die soektog na Leon Strydom (40), die man wat vermis geraak het nadat sy motor Donderdag deur vloedwater in die noorde van Pretoria meegesleur is, is Vrydagoggend hervat.
Maroela Media het Donderdag berig Strydom se motor is die oggend terwyl hy op pad werk toe was, op die R101 by Honingnestkrans deur die Apiesrivier meegesleur ná swaar reënval sedert Woensdag.
Reddingswerkers kon die motor van die oewer af sien, maar dit was onduidelik of daar iemand in die motor was omdat dit onder die water was. Daar is later vasgestel daar kan nie rekenskap gegee word van die bestuurder nie. Reddingswerkers kon weens erge reën, sterk strome en swak sigbaarheid, nie Donderdag by die motor uitkom nie.
Johan Pieterse, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, het Vrydag aan Maroela Media gesê die reddingsproses is nou ʼn herwinning. “Die motor het Donderdag aanvanklik teen ʼn boom vasgesit en net toe polisieduikers by dit uitkom en daarin wou soek, het die motor losgekom en laer af teen ʼn brug beland. Die toestande was te gevaarlik om die motor te herwin en die herwinning is tot vandag uitgestel.”
Die motor is Vrydag omstreeks 10:30 deur ʼn trekker uit die water gehaal. Daar was niemand in die motor nie. “Soek- en reddingspanne gaan nou die oewers van die rivier in die omgewing begin fynkam na enige tekens van die man,” het hy gesê.
Bekommerde familielede van Strydom was Donderdag en Vrydag op die toneel.
Kapt. Riana van Aarde, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig die soektog duur voort. “Polisieduikers en die honde-eenheid word by die soektog betrek. Die gebied tot om die Bon Accorddam sal gefynkam word,” het sy gesê.
Die Tshwane-nooddienste is sedert Dinsdag op ʼn hoëgereedheidsgrondslag geplaas nadat die Suid-Afrikaanse Weerdiens gewaarsku het swaar reënval kan moontlik kitsvloede in Pretoria veroorsaak.
Lees die opvolgberig hier: Man se liggaam gevind ná vloedwater kar meesleur