Konst. Thuli Ngwenya, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die verdagtes het na bewering vier studente van die Universiteit van Johannesburg (UJ) in Aucklandpark beroof. Die studente het alarm gemaak en ʼn polisiepatrollievoertuig in die gebied het hulle te hulp gesnel.
“Die verdagtes het weggejaag en die patrollievoertuig het hulle agternagesit,” het Ngwenya gesê. “Tydens die jaagtog het die patrollievoertuig op die polisieradio bystand versoek en ʼn polisievoertuig van die Orlando-polisie het op die Soweto-snelweg by die jaagtog aangesluit.”
Volgens Ngwenya het die verdagtes die oomblik toe hulle die polisievoertuig sien het, op daarop losgebrand en die polisiebeamptes in die motor het teruggeskiet. “Al drie verdagtes is doodgeskiet. Die polisiebeamptes is nie beseer nie,” het sy gesê.
Twee vuurwapens is in die verdagtes se voertuig gevind. ʼn Saak van roof en ʼn geregtelike doodsondersoek is geopen.

