Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Taakspan sal oor Affies-skoolwapen besluit

$
0
0

Die huidige skoolwapen (links) en die nuwe voorgestelde skoolwapen. Foto: Facebook

Die huidige skoolwapen (links) en die nuwe voorgestelde skoolwapen. Foto: Facebook

Die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria het Vrydag gesê “die emosionele debat in die media” oor die nuwe weergawe van die skoolwapen het ontstaan omdat die nuwe wapen se voorgestelde ontwerp onregmatig bekendgemaak is.

Maroela Media het vroeër berig ʼn herrie het ontstaan nadat dit aan die lig gekom het dat die Affies-bestuur besluit het om die Voortrekkernooientjie op die skoolwapen met ʼn moderner weergawe te vervang. Oudleerlinge van die skool het teen die besluit uitgevaar en die nuwe ontwerp as ʼn “Barbie doll met ʼn kappie” bestempel wat glo nie vooraf met die alumni bespreek is nie.

Colleen Naudé, woordvoerder van die skool, het Vrydag in ʼn verklaring gesê daar is besluit om die boerenooientjie op die skoolwapen aan te pas omdat die toepassing van die skoolwapen op sekere materiale onduidelik en onvanpas is.

“Ten einde te verseker dat die voorstelling van die jong dogter of boerenooientjie as geregistreerde skoolwapen behou word en as ʼn voorkeur handelsmerk te vestig, is voorgestel dat die skoolwapen meer herkenbaar en duidelik moet wees, haar lyne skoner is en die onnodige skaduwees is verwyder,” het sy gesê.

“Die oogmerk was ʼn duideliker skoolwapen wat herkenbaar sal wees op enige materiaal of item. Verder moet sy verteenwoordigend wees van die huidige skoolgemeenskap, gegrond op die verlede, maar gerig op die toekoms.”

Volgens Naudé het die beheerliggaam van die skool wel die herontwerpte voorstel van die nooientjie aanvaar, maar is daar besluit dat die voorstel eerstens aan die personeel en leerders en dan die ouers en oudleerlinge, voorgehou sal word. Sy het gesê die personeel en leerders is onderskeidelik op 5 en 7 Maart 2016 hieroor ingelig.

ʼn Vergadering is Donderdagaand gehou waar alumni en ouers teenwoordig was om die skoolwapen te bespreek.

“Die personeel en leerders het met ʼn oorweldigende meerderheid die herontwerpte boerenooientjie as amptelike embleem ondersteun. Die meerderheid oud-Affies en ouers wat by gisteraand se vergadering was, het egter hul ontevredenheid te kenne gegee en was ten gunste van die behoud van die ou ontwerp,” het Naudé gesê.

Sy het gesê ʼn taakspan sal uit verteenwoordigers van al die belangegroepe saamgestel word om die saak intern af te handel.

“AHMP sou verkies dat die openbare debat wat in die pers en sosiale media ontstaan het oor die aangeleentheid, eerder deur middel van die toeligtingsessies aan die belangegroepe gevoer moes word. Die onregmatige openbaarmaking van die voorgestelde nuwe ontwerp van die embleem, voordat die beheerliggaam geleentheid gehad het om die volledige inligting aan die belangegroepe te verskaf en af te handel, het die emosionele debat in die media tot gevolg gehad.”


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621