
‘n Skermskoot uit ‘n video wat wys hoe Mido Macia agter ‘n polisievangwa gesleep is.
“Die beskuldigdes moet nou opstaan. Beskuldigdes een tot agt, julle word skuldig bevind aan moord. Julle kan weer sit,” het regter Bert Bam gelas nadat hy ʼn samevatting gelees het van die bewyse wat tydens die verhoor voorgelê is. Bam het gelas dat die beskuldigdes in aanhouding bly voordat hy die hof verdaag het om die voormalige polisiebeamptes se regsverteenwoordigers kans te gee om te hoor of hul kliënte gereed is om met vonnisoplegging voort te gaan.
Die agt moordenaars, Bongamusa Mdluli, Meshack Malele, Thamsanqa Ngema, Percy Mnisi, Sipho Ngobeni, Lungisa Gwababa, Bongani Kolisi en Linda Sololo, is ná die uitspraak na die aanhoudingselle begelei.
ʼn Negende voormalige polisiebeampte wat ook vir die moord aangekla is, is vroeër vandeesmaand deur die hof vrygespreek. ʼn Staatsgetuie het gesê hy het fouteer toe hy Matome Ramatlou by die moord betrek het. Ramatlou is kort daarna vrygespreek.
Macia is op 26 Februarie 2013 deur die polisiebeamptes genader nadat hy sy minibustaxi op ʼn onwettige plek parkeer het en ʼn verkeersknoop veroorsaak het. ʼn Woordewisseling het tussen hom en die polisie ontstaan en hy is agter ʼn polisievangwa aangesleep. Hy is later in die selle van die Daveyton-polisiestasie dood.
Die beskuldigdes het aangevoer dat Macia se handboeie verstrengel geraak het in die bankie agter in die vangwa waarna hy volgens hulle uit die vangwa geval het en per ongeluk agter die vangwa gesleep is. Die staat het egter aangevoer dat die beskuldigdes wel bewus was dat hy agter die vangwa gesleep is.
Klik hier vir alle vorige berigte oor die saak op Maroela Media.