Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

ANC eis ondersoek oor ‘rassisme’-video by Maties

$
0
0

'n Skermskoot uit die video.

‘n Skermskoot uit die video.

Die ANC het Dinsdag in die parlement woedend gereageer op ʼn dokumentêre video waarin swart studente vertel hoe daar teen hulle gediskrimineer word by die Universiteit Stellenbosch (US).

Die 34-minute lang video genaamd “Luister” is op 20 Augustus op YouTube gelaai. In die video praat 32 studente van die US en die Elsenburg-landboukollege terwyl ʼn dosent hulle uitvra oor hul ervarings by die universiteit. Die studente vertel in die video van rassistiese gedrag teenoor hulle by die instansie waar die dominante onderrigtaal Afrikaans is.

Moloto Mothapo, hoofsweep van die ANC, het gesê die studente het hulle uitgespreek oor hul “skokkende persoonlike ervarings van geïnstitusionaliseerde rassisme, diskriminasie en teistering [waaronder] hulle steeds ly bloot weens hul velkleur”. Mothapo het gesê die dokumentêr bewys dat studente onwelkom voel in hierdie voorheen “slegs-blanke hoëronderriginstansie”.

“By hierdie universiteit het dit alledaags geraak vir wittes om na swart studente te verwys deur die k-woord te gebruik, vir swart studente om fisies en verbaal mishandel te word sonder enige ingryping van die universiteitbestuur, vir swart studente om te sukkel omdat hulle gedwing word om in lesings te sit wat in Afrikaans aangebied word wat hulle nie verstaan nie en vir swart studente om onwaardig te voel.”

Mothapo het gesê dit is onaanvaarbaar dat die US ná 20 jaar van demokrasie steeds “’n enklawe van wit heerskappy en apartheidkultuur is waar jongmense in die nuwe, vrye Suid-Afrika moet ly onder dieselfde vernedering wat hul voorsate moes verduur het”. Hy het gesê die ANC spreek onomwonde hul solidariteit met die swart US-studente uit.

Volgens Mothapo sal die ANC die voorvalle in die video ondersoek en verwag hulle dat die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie en die portefeuljekomitee vir hoër onderrig dringend die bewerings ondersoek en met al die relevante partye vergader.

“Die beweerde rassistiese praktyke by Universiteit Stellenbosch het geen plek in ons vry en demokratiese samelewing nie.”

Die video is deur die gebruiker Contraband Cape Town op YouTube gelaai:


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Latest Images