Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Lambertsbaai-tragedie: ‘Hulle het passie gedeel’

$
0
0
David Smit. Foto: Facebook

David Smit. Foto: Facebook

Die vier vriende van Lambertsbaai wie se visvanguitstappie in ʼn tragedie ontaard het, het ʼn passie gedeel en amper weekliks saam gaan visvang.

Maroela Media het vroeër berig een visserman, Willem “Hottie” Pretorius, het die tragiese ongeluk oorleef. Herman “Plattie” Tolken en Hugo “Vissie” Visser se liggame is Dinsdagaand in die vlakwater gevind. David Smit (63) se liggaam word steeds gesoek.

Yan Smit, David se broer, het Donderdag aan Maroela Media gesê die familie sal eers berusting kan kry wanneer sy broer se liggaam gevind is. “Ons het Dinsdagnag tot in die vroeë oggendure met behulp van sterk flitse gesoek, maar kon niks vind nie. Gisteroggend het een polisieduiker help soek en vanoggend was daar darem twee polisieduikers,” het hy gesê.

“Wat ons eintlik dringend nodig het, is ʼn helikopter of klein vliegtuig wat met die soektog kan help. David het sy oranje reddingsbaadjie aangehad, so dalk kan ’n mens hom uit die lug uit raaksien. Ongelukkig kon ons nog niemand kry om ons hiermee te help nie.”

Herman “Plattie” Tolken. Foto: Facebook

Herman “Plattie” Tolken. Foto: Facebook

Yan het vertel dat die ongeluk nie ʼn paar honderd meter van die kus af gebeur het soos vroeër berig nie, maar dat die boot omtrent drie tot vier kilometer in die see in was. “Die ankertou het in die skroef van die boot beland en hulle kon nie gou genoeg die enjin afskakel nie, wat veroorsaak het dat die agterkant van die boot onder die water in getrek is. Nadat hulle die tou afgesny het, het die boot al meer water ingeneem totdat dit uiteindelik omgeslaan het,” het hy gesê.

Volgens Yan het al vier mans aan die boot vasgehou en die gety toegelaat om hulle nader aan die strand te bring. Toe hulle sowat 100 meter van die kus af was, het hulle besluit om die boot te los uit vrees dat die branders hulle teen die rotse sal vasslaan. “Hulle het besluit dat dit van hier af elke man op sy eie moet wees en dat hulle moet doen wat hulle kan om by die kus uit te kom. David het ʼn lang en ernstige gebed gedoen en daarna het al vier die boot gelos,” het Yan gesê.

Hugo “Vissie” Visser. Foto: Facebook

Hugo “Vissie” Visser. Foto: Facebook

“Toe Hottie uiteindelik by die kus uitkom, het hy lank daar gelê omdat hy heeltemal uitgeput was. Hy kon die boot nog so 50 meter diep in die see in sien, maar daar was geen teken van die ander drie manne nie. Hy het uiteindelik daarin geslaag om na die pad toe te strompel om hulp te kry.” Sowat ʼn uur nadat Pretorius die kus bereik het, is Tolken en Visser se liggame gevind.

Yan het vertel dat die vier mans ʼn passie vir visvang gedeel het en die afgelope twee jaar elke week ʼn paar keer saam gaan visvang het. “David was voorheen ʼn laerskoolonderwyser en het later geboer voordat hy afgetree het. Maar hy was nog altyd ʼn mense-mens. Hy sou nooit van jou af weggestap het sonder om te hoor of daar nie dalk iets is waarmee hy jou kan help of ondersteun nie. Hy was nederig en nou betrokke by die kerk. Sy vrou en twee kinders kry bitter, bitter swaar.”

Volgens Yan is Pretorius ná die ongeluk deur ʼn dokter behandel, maar nie in die hospitaal opgeneem nie. Hy is egter baie getraumatiseerd deur die gebeure. Gesie Visser, Hugo se vrou, het Donderdag ook die gebeure van die ongeluk aan Maroela Media bevestig. Sy het gesê haar man se begrafnis sal Sondag plaasvind.

Tolken se begrafnis sal Saterdag gehou word. Yolandé Tolken-Burger, Tolken se dogter, het op Facebook hulde aan haar pa gebring. “Pappa, dis maar nog net ʼn klompie ure vandat Jesus jou kom haal het, maar die verlange brand so seer. Nooit sal ek Pappa se stem weer hoor of Pappa se sterk arms vir ʼn drukkie voel nie. Rus veilig en gelukkig in Jesus se arms tot ons weer ontmoet,” het sy geskryf.

Maroela Media wag steeds op kommentaar van die polisie.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!