Regterpresident John Hlophe het die vrou, wat nie geïdentifiseer mag word nie ten einde Zephany se nuwe identiteit te beskerm, skuldig bevind aan ontvoering, bedrog en oortreding van die Kinderwet.
Die 50-jarige vrou van Lavender Hill is daaraan skuldig bevind dat sy Zephany op 30 April 1997 uit die Groote Schuur-hospitaal ontvoer het. Zephany is op 28 April 1997 met ʼn keisersnee in die lewe gebring.
Die vrou, wat vroeër op borgtog van R5 000 vrygelaat is, se borgtog is teruggetrek en sy sal in aanhouding bly. Hlophe het vonnisoplegging tot 30 Mei uitgestel.
Zephany se biologiese suster, wat toevallig in dieselfde skool as sy is, het glo agtergekom dat die ouer meisie baie soos sy lyk. Die biologiese ouers het agterdogtig geraak en die polisie genader. DNS-toetse het bewys dat die meisie inderdaad Zephany is wat al sedert 1997 vermis is.
Die vrou wat Zephany grootgemaak het, is kort daarna in hegtenis geneem.
Lees alle vorige berigte oor die Zephany Nurse-saak op Maroela Media.