Chitra Bodasing, woordvoerder van ER24, het gesê twee motors en ʼn vragmotor was in die botsing, sowat 15 km buite Fochville, betrokke. “Twee mans, glo pa en seun, was in een van die motors vasgekeer.”
Die seun, in sy 20’s, het die motor bestuur. “Hy het ernstige beserings opgedoen en daar was ongelukkig niks wat paramedici vir hom kon doen nie. Hy is op die toneel dood verklaar.” Volgens Bodasing het die pa, glo in sy 50’s, kritieke beserings opgedoen en moes met meganiese toerusting uit die wrak verwyder word.
Bodasing het gesê die pa is op die toneel behandel voor hy na ’n nabygeleë hospitaal vervoer is vir verdere behandeling. “Die drie mans in die ander motor sowel as die vragmotorbestuurder het ligte beserings opgedoen.”
Die presiese oorsaak van die ongeluk word ondersoek.