Weens die volgehoue steke wat die rubriekskrywer Max du Preez teen AfriForum en Solidariteit inkry, is dit nodig om die omgewing waarbinne dit afspeel onder die loep te neem. Kan grondwetlikheid ooit plek maak vir ideologie of selfs emosionele fiksasie waar enkele voorvalle tot die algemene karakter van die instansies verhef word? En kan die Afrikaner nog sonder AfriForum en Solidariteit?
In die sosiale media is daar ’n groot ongelukkigheid oor die rubriekskrywer Max du Preez se ongelukkigheid met AfriForum en Solidariteit, onder meer oor dié instansies glo sou voorgee om alle Afrikaners te verteenwoordig. AfriForum en Solidariteit ontken uiteraard dat hulle, honderde duisende lede ten spyt, alle Afrikaners of Afrikaanssprekendes verteenwoordig (en allermins vir Max), maar soms is die skeidslyn tussen ledebelange en die belange van groepe waarvan hulle deel is nie so duidelik nie.
Baie onregte in hierdie land het al ongestraf gebly weens ’n opvatting van “die ou mense” dat die hof ’n gawe plek is om te “makeer”. Trouens, al is jy ook hóé te na gekom, uit die hof bly jy weg. En dan die lessie daarby, “Deur skade en skande word ’n mens wys”.
Maar toe kom die nuwe Grondwet, en Suid-Afrika word ’n regstaat. Dit beteken (en die ANC moet ook mooi luister) die oppergesag van die reg (rule of law). Kortom, die reg slaan die kitaar selfs waar voorheen ander kundiges soos sosioloë, politieke wetenskaplikes en ander die werk kon doen waarvoor ’n regsgraad nou ’n vereiste is.
Dit bevestig en versterk ook die beginsel van natuurlike geregtigheid, wat beteken die howe kan ook maar ’n plek wees wat selde opgesoek word as almal se aanvoeling en ingesteldheid oor natuurlike geregtigheid met die inhoud van die Grondwet versoenbaar is. En dis waar die kruks lê.
As die bepalings van die Grondwet, soos oor taalregte, nie knaend onder druk gekom het nie, hoekom is daar nou onvrede hieroor op Tuks, Maties en by Kovsies?
Hoe gebeur dit dat net twee rektore sover bekend te midde van die taalstorm, dié van Noordwes, prof. Dan Kwadi, en Tuks, prof. Cheryl de la Rey, laat blyk het dat ’n mens grondwetlike bepalings in die formulering van ’n taalbeleid moet vind?
Solidariteit en AfriForum het al skerp onder kritiek deurgeloop “omdat altyd howe toe gehardloop word”. Of so ’n stelling billik is as die werk agter die skerms, pogings om te skik, en ander aksies nie bekend is nie (of gerieflik nie “raakgesien” word nie) is ’n ander vraag. ’n Hofsaak loop ook die gevaar om ’n ongunstige uitslag op te lewer en dan word ’n saak eintlik verder teruggesit, soos die wyse waarop die regering ondergrondse regte eintlik genasionaliseer het. AfriForum en Solidariteit is lank nie die enigste instansies wat “howe toe hardloop nie”. Dink maar aan belangrike hofsake wat deur instansies soos Freedom Under Law en Outa aanhangig gemaak is. En nie alle hofsake is suksesvol nie.
En wie dink die burgery kan bloot ongrondwetlike optrede deur die regering of staat ignoreer, het dit mis. In die bekende saak van City Council of Pretoria v Walker het die konstitusionele hof weliswaar in die meerderheidsuitspraak beslis munisipaliteite wat wit inwoners gemeterde tariewe laat betaal, en swart inwoners vaste tariewe (flat rates) is ongrondwetlik, maar dat die protesaksies daarteen ook buite orde was tensy ’n hofbevel verkry word om die staat tot grondwetlike optrede te dwing.
Nou hoe dan nou as die staat, of ’n staatsinstelling soos ’n universiteit, bereid is om skynbaar ongrondwetlike optredes tot in die hoogste hof te verdedig? Trouens, in die Modderklip-saak is die staat in die appèlhof reeds gemaan om nie die opponente deur sloertaktiek en dus stygende regskoste tot oorgawe te dwing nie. Die staat het nietemin deurgedruk en die saak nie net in die appèlhof nie, maar ook die konstitusionele hof gaan verloor.
Dit beteken dat die staat en staatsinstellings wat toegang tot die Tesourie het vir regskoste “maklik” in die versoeking kan beland om ideologie, of beleid soos verdwaalde transformasie, op te dwing want min lede van die gewone publiek het die middele om die staat in ’n hofproses die stryd aan te sê. En juis hierom word die bestaan van burgerlike instellings soos Outa, AfriForum en Freedom Under Law as belangrike kenmerke van ’n volwasse grondwetlike demokrasie beskou. Dit word op dieselfde vlak as die rol van ’n vrye media gestel.
En dit is hier waar die rubriekskrywer Max du Preez in sy vendetta teen AfriForum en Solidariteit die toets druip. Hy maak onder meer daarop aanspraak dat hierdie instansies hulle “voordoen” asof hulle alle Afrikaners verteenwoordig. En nee dankie, hulle verteenwoordig hom nie.
Inderdaad. As Max nie lid is nie, is hy nie lid nie, en sal AfriForum hom ook nie met regsaksie bystaan tensy dit oor ’n kwessie handel wat die Afrikaner in die algemeen se belange raak nie. (En nee, nie alles wat AfriForum doen, handel oor die howe of, soos Max daarop fokus, rugstyfmakery teen wanorde nie.)
Maar terug na die taalkwessie. Hoe nou gemaak as Afrikaans op universiteite gerysmier word, hetsy geleidelik of met ferm pennestrepe, terwyl die Grondwet bepaal dat inheemse tale uitgebou moet word? Of dat voorsiening vir moedertaalonderrig op alle vlakke gemaak moet word indien haalbaar?
Kan strooipop-argumente werklik opweeg teen grondwetlikheid?
Hoe gebeur dit dat ’n bekende filosoof en hoogleraar in die media gal braak omdat AfriForum die grondwetlike weg volg om Maties tot die toepassing van hul eie goedgekeurde taalbeleid te dwing? Boonop maak hy emosionele stellings soos dat AfriForum probeer om Afrikaans as oppermagtige taal op Maties af te dwing, terwyl die goedgekeurde taalbeleid wat AfriForum wou ingestel sien, juis nie taaloorheersing van die een oor die ander behels nie. Maties moes buite die hof skik, en die prof het eier in die gesig. En nou moet weer hof toe gegaan word.
Ook by Kovsies het AfriForum eers gekorrespondeer (wat uit beriggewing blyk aanvanklik skynbaar geïgnoreer is). Dit lyk nie of Kovsies se bestuur, of selfs raad, gaan kopgee sonder die wolk van moontlike hofsake wat oor die kop hang nie. Dit sal interessant wees om te sien hoe sake hier verder verloop.
Diegene wat so oorleun om die molesmakers ter wille te wees, en daarom by verstek grondwetlike regte op te offer, moet as opvoedkundiges waak daarteen dat hulle, as opvoeders, nie die opvoeding besoedel deur die Grondwet as opportunisties verhandelbare weg te smous nie. Veral nie as die prys oorgawe aan anargie behels nie.
Ja, gesprekvoering voor regsaksie is noodsaaklik, en die howe plaas ook ’n hoë premie daarop as ’n saak desnieteenstaande voor die hof beland. Maar om grondwetlikheid self weg te smous en so die grondwetlike regte van selfs enkelinge op te offer, is nie vars nie.
In werklikheid is die regsproses veel komplekser as wat hier uiteengesit is. Soms is daar by wyse van spreke soveel regsmenings soos wat daar regslui is wat oor ’n saak besin. Die afwisselende bevindings van die verskillende howe waar die Renate Barnard-saak gedien het, toon dit duidelik, en Solidariteit neem die saak steeds verder vir internasionale beregtiging.
Juis daarom is dit so noodsaaklik dat burgerlike instellings deur ledetal en beskikbare geld sterk genoeg is om behoorlike regsmenings te verkry voordat “hof toe gehardloop” word.