Lt.kol. André Traut, woordvoerder van die polisie, het gesê die meisie se lyk is Maandag omstreeks 18:15 in Dennedalweg gevind. “Ons vermoed sy is verwurg. Sy is vroeër dieselfde dag as vermis aangegee nadat sy gaan draf het en nie teruggekeer het nie.”
Intussen word daar berig dat die meisie saam met haar ma, jonger suster en die gesin se hond in die woud gaan stap het. Die meisie het glo in ʼn ander rigting gedraf en sou haar gesinslede weer verder in die woud ontmoet het. Nadat sy ná ʼn sekere tyd nie teruggekeer het nie, het die ma bekommerd geraak en hulp ontbied. Dit was glo Maandag omstreeks 16:00.
Maroela Media verneem die gesin woon in Muizenberg en dat die meisie se ouers ʼn gastehuis in Kalkbaai besit en bedryf. Die meisie se naam is aan Maroela Media bekend, maar sal nie nou bekend gemaak word nie aangesien al haar naasbestaandes moontlik nog nie van haar afsterwe in kennis gestel is nie.