Clik here to view.

Oscar Pistorius voorheen in die hof. (Maart 2014) Foto: Chris Collingridge/TheStar/Pool/SAPA
Luvuyo Mfaku, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het Vrydag aan Maroela Media gesê die staat sal aanvoer dat die vonnis gepas moet wees vir ʼn aanklag van moord.
Pistorius sal na verwagting op 18 April gevonnis word nadat sy laaste poging om sy skuldigbevinding te appelleer by die konstitusionele hof misluk het. Die konstitusionele hof het Donderdag Pistorius se aansoek om verlof tot appèl afgekeur weens ’n gebrek aan vooruitsigte op sukses.
Die appèlhof het in Desember verlede jaar besluit om Pistorius se skuldigbevinding aan strafbare manslag om te keer.
Prof. Annette van der Merwe van die departement prosesreg aan die Universiteit van Pretoria (UP) het Vrydag gesê dit is te verwagte dat die staat sal versoek dat Pistorius die minimum vonnis vir moord opgelê word, maar dit beteken nog nie dat die hof verplig is om dit te doen nie.
“Natuurlik sal die staat vir die minimum vonnis vra, want die akkusatoriese geveg duur voort – die staat versoek die langste gevangenisstraf moontlik en die verdediging die minste straf moontlik. Ek dink die unieke omstandighede in die saak sal die hof oortuig dat 15 jaar tronkstraf onvanpas en onregverdig sal wees, en die hof sal ook bevind dat daar wesenlike en dwingende omstandighede is [om van die minimum vonnis af te wyk],” het Van der Merwe gesê. “Al die gewone versagtende en verswarende faktore word samehangend in ag geneem. Dit hoef nie uitsonderlike omstandighede te wees nie.”
Van der Merwe verwag dat die verdediging steeds sal steun op die feit dat Pistorius met algemene angsversteuring gediagnoseer is en dus moontlik minder toerekeningsvatbaar was ten tyde van die moord. “Hy kan moontlik ʼn opgeskorte vonnis opgelê word of iets soos agt jaar tronkstraf waarvan drie jaar opgeskort is,” het sy verduidelik. Die gevangenisstraf wat Pistorius reeds uitgedien het, sal uiteraard ook deur die hof in ag geneem word.
Hoewel Pistorius nou alle moontlik regsopsies benut het om sy skuldigbevinding te appelleer, kan hy steeds teen sy vonnis appelleer, het Van der Merwe verduidelik. “Die vonnis kan geappelleer word op grond van verskillende redes, soos as die straf buite die hof se jurisdiksie val, as die hof misgetas het deur onder meer versagtende faktore mis te kyk of te min gewig daaraan te gee, of as die vonnis so skokkend onvanpas is dat geen ander redelike hof dit sou oplê nie.”