“Ek doen ʼn beroep op alle geskikte burgers om in groot getalle hul betrokke stemdistrikte en -stasies te besoek en te registreer of hul inligting te laat bywerk sodat hulle gereed is vir hierdie belangrike demokratiese proses,” het die president gesê.
Die komende naweek is deur die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) aangedui as die naweek wanneer kiesers by meer as 22 000 verkiesingstasies kan registreer.
Zuma het kiesers herinner dat die registrasie nie net vir kiesers is wat vir die eerste keer gaan stem nie, maar ook vir mense wat intussen verhuis het of deur veranderinge in die wyke of verkiesingsdistrikte geraak word.
Kiesers kan hul plaaslike stasies Saterdag en Sondag tussen 08:00 en 17:00 besoek en moet hul ID-boekie, slimkaart-ID of ʼn geldige tydelike ID saamneem. Binnelandse Sake sal hierdie naweek ook hul kantore op dieselfde tye oophou sodat kiesers vir die nodige ID-dokumente kan aansoek doen, indien nodig.
“Ek moedig elke Suid-Afrikaner aan om te registreer om te kan stem en so jou belangrike plig as burger van hierdie land na te kom,” het Zuma gesê. “Ons moedig ook jongmense aan wat vanjaar 18 jaar oud word om te registreer en sodoende ʼn sê te hê in wie hul munisipaliteit bestuur.”
Zuma sal Saterdag om 10:00 sy plaaslike verkiesingstasie by die Ntolwane Primêre Skool in Nkandla, KwaZulu-Natal, besoek.