Greyling is in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Port Elizabeth tot agt jaar tronkstraf gevonnis vir diefstal van nagenoeg R900 000. Greyling se familie en haar man, Francois, wat ʼn DA-raadslid in die Despatch-omgewing is, was by die hof om haar te ondersteun.
Maroela Media het vroeër berig dat Greyling, die stigter en bestuurder van Just Letting in Uitenhage, tydens ’n vorige verskyning skuldig gepleit het op die aanklagte teen haar.
Anlen Murray, Greyling se regsverteenwoordiger, het ter versagting aangevoer dat sy kliënt verskeie lenings van familielede en banke uitgeneem het in ʼn poging om die geld terug te betaal. Ulrike de Klerk, die staatsaanklaer, het Greyling geloof omdat sy verantwoordelikheid vir haar aksies geneem het.
Landdros Louis Claassen het toegegee dat Greyling berou getoon het, maar bygevoeg “die hof moet die gemeenskap in ag neem. Die hof moet ʼn boodskap stuur dat witboordjiemisdade ernstig geneem word.”
Volgens Claassen is die minimumvonnis vir eerste oortreders 15 jaar tronkstraf vir diefstal van meer as R500 000.
Marietjie Steenkamp, Greyling se skoonma, het ná die hofverrigtinge aan African News Agency gesê hulle respekteer die reg. “Dit is ʼn baie hartseer dag vir ons, haar kinders gaan haar mis.”