Zuma het Donderdag by die opening van die Nasionale Huis vir Tradisionele Leiers gesê hy glo eise moet ook ingestel kan word op grond wat voor 1913 vervreem is, wat tans nie die geval is nie.
“Ek glo, as die seun van ʼn swart man, wat swart is en alleen was soos altyd, dat die afsnydatum geskuif moet word. Maar daar moet ʼn verantwoordelike manier gevind word om aandag te gee aan die kwessie binne die grense van die grondwet en die reg,” het Zuma gesê.
Zuma het gevra of die 1800’s nie die geskikste afsnydatum vir grondeise sal wees nie. “Was die besluit om die afsnydatum 1913 te maak korrek? Miskien ja. Maar is die grond in 1913 gevat?” het Zuma gevra.
“Ek glo dat die grond wat ná 1913 gevat is, persentasiegewys baie klein en onbeduidend is in vergelyking met die grond wat spesifiek in die 1800’s gevat is. Dit is wanneer die grootste gedeelte van grond gevat is.”
Zuma het gesê die huidige eiseproses is nie regverdig teenoor swart Suid-Afrikaners nie. “Dit is baie moeilik om te bewys dat grond aan jou voorouers behoort het. Dit is baie maklik vir ʼn grondeienaar om te sê die grond behoort nie aan jou nie.”
Zuma het gesê grondonteiening is een van die kwessies wat bydra tot die probleme van armoede, ongelykheid en werkloosheid wat miljoene Suid-Afrikaners se lot is. “Ons gaan dood as gevolg van armoede. Daar is baie dinge wat met ons gebeur. Praat met julle swart intelligentsia om navorsing te doen en na te dink en met nuwe planne vorendag te kom hoe ons hierdie vraag kan hanteer sodat ons armoede kan hokslaan. Dis nie nodig om skaam daaroor te wees nie,” het Zuma gesê.