Die FNB Varsitybeker-rugbyreeks is weer uitgestel weens die studentebetogings wat universiteite regoor die land ontwrig het.
Duitser Bosman, die uitvoerende hoof van Varsitybeker, het Dinsdag in ʼn verklaring gesê die raad het besluit alle Varsitybeker-wedstryde sal vir nóg ʼn week uitgestel word om universiteite “die geleentheid te gee om die verskeie uitdagings wat hulle het, te hanteer”.
Die Varsitybeker het aanvanklik aangekondig slegs vandeesweek se wedstryde sou uitgestel word, maar het nou volgende week se wedstryde ook uitgestel. “Die welstand en veiligheid van alle studente, spelers en toeskouers, bly steeds van kardinale belang,” het Bosman gesê.
Hy het gesê die raad sal weekliks vergader om die verwikkelinge by die onderskeie universiteite te evalueer, voordat enige wedstryde sal hervat.
Betogings by die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) is Dinsdag voortgesit en sewe mense is beseer toe die betoging gewelddadig geraak het. Werkers by Unisa het ook Dinsdag hul betoging teen die uitkontraktering van dienste op die Sunnyside-kampus voortgesit.
Klasse is Maandag by die Universiteit van Pretoria (Tuks) se Hatfield- en Groenkloof-kampusse onder swaar polisieteenwoordigheid hervat. Intussen het die Universiteit van die Vrystaat (UV) Maandag in ʼn verklaring gesê die situasie op kampus is kalm en veiligheidsbeamptes op die kampus is verdubbel as voorsorgmaatreël.