Dit volg nadat Zuma en ander afgevaardigdes sedert Saterdagoggend in Burundi gestrand was weens “tegniese probleme” wat ondervind is met die presidensiële straler, Inkwazi.
Die Suid-Afrikaanse Lugmag het intussen gesê ʼn ander vliegtuig is gestuur om Zuma terug te bring na Suid-Afrika. “Die president se veiligheid is geensins bedreig deur die tegniese probleem nie. ʼn Falcon 900 is onmiddellik van die Waterkloof-lugmagbasis na Burundi ontbied om die president te gaan haal.”
Maroela Media het vroeër berig Zuma is in Burundi as deel van die Afrika-unie (AU) se besoek aan die land. Die afvaardiging, onder wie vyf staatshoofde, het Vrydag samesprekings met Burundi se president, Pierre Nkurunziziza, leiers van politieke partye en ander organisasies afgehandel.
Adjunkpresident Cyril Ramaphosa sal intussen namens Zuma waarneem by die 16de jaarlikse Nasionale Onderwystoekenningsgeleentheid Saterdagmiddag in Johannesburg.