“Indien nodig, sal ek die toepaslike regstappe doen om myself en die Tesourie te beskerm teen enige elemente wat my, die instelling of die integriteit daarvan verdag wil maak en oneer aandoen.” Dit volg nadat die Valke vier dae voor die begrotingsrede ʼn vraelys gestuur het na aanleiding van die magstryd tussen hom en Tom Moyane, hoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).
“Ek kan bevestig dat die Valke geen rede het om my te ‘ondersoek’ nie.” Die ANC het by monde van Gwede Mantashe, sekretaris-generaal, sy ondersteuning aan Gordhan toegesê. “Ek is dankbaar vir die ondersteuning wat ek nou van die ANC af kry en die party se vasberadenheid om te verseker dat noodsaaklike instellings soos die Tesourie en die SAID nie negatief geraak word deur optredes soos wat ons die afgelope week gesien het nie.”
Volgens Gordhan is daar ʼn groep mense wat nie belangstel in die ekonomiese stabiliteit van die land nie. “Dit blyk dat hulle net daarin belangstel om instellings en mense se goeie naam te vernietig.”
Gordhan het vroeër Vrydag ʼn duidelike grens gestel rakende sy magstryd met Moyane. Lees meer hier.