Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

‘Betogers’ teiken Modimolle-burgemeester; skole sluit

$
0
0
Die polisie by 'n groep betogers in Phagameng. Foto: Johann Abrie (DA-verteenwoordiger)

Die polisie by ‘n groep betogers in Phagameng. Foto: Johann Abrie (DA-verteenwoordiger)

Die burgemeester van Modimolle (Nylstroom), Elizabeth Lekalakala, se huis is Dinsdag in die vroeë oggendure deur ʼn groep beweerde betogers beskadig te midde van spanning in die gebied oor ʼn gebrek aan water.

Die spanning het veroorsaak dat verskeie skole en ondernemings Dinsdag hul deure moes sluit. Kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder van Limpopo, het gesê die aanval het tussen 24:00 en 02:00 plaasgevind.

“Die eiendom is deur ʼn verskeidenheid voorwerpe beskadig. Die hek se ligte is stukkend geslaan, elektriese kabels is afgesny en die hek is vol duike geslaan,” het Otto gesê. “Niemand is tydens dié voorval beseer nie en niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.”

Otto het gesê die hoofpad tussen Phagameng en Modimolle is met bande wat aan die brand gesteek is, boomtakke, vullis en klippe versper.

“Daar was ook pogings om die R101 tussen Modimolle en Naboomspruit te versper, maar die openbare-ordepolisie het dit reeds opgeruim en altesaam 14 mense is in hegtenis geneem.” Die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn.

Sy het gesê teen sonsopkoms het groepe mense steeds in Phagameng rondgestaan. “Die situasie is steeds gespanne.”

Maroela Media het verneem die polisie moes van rubberkoeëls en traangas gebruik maak om die skare in bedwang te kry.

Intussen het skole en ondernemings in Modimolle gesluit nadat gerugte versprei het dat betogers weer na die dorp gaan opruk.

“Die meerderheid leerders het vandag by die huis gebly nadat ons gister gehoor het van die betoging. Daar het ʼn paar leerders vandag opgedaag, maar ons het hul ouers versoek om hulle te kom haal. Net die personeel is tans by die skool,” het Violet Tredway, ʼn sekretaresse by Laerskool Eenheid, aan Maroela Media gesê.

ʼn Sekretaresse van Hoërskool Nylstroom het ook aan Maroela Media bevestig dat daar nie leerders by die skool is nie, net kernpersoneel. “Ons is met die ouers op ʼn SMS-stelsel in verbinding en hoop dat alle bedrywighede môre soos normaalweg sal voortgaan.”

Maroela Media het Vrydag berig inwoners van Phagameng, buite Modimolle, betoog onder meer oor ʼn tekort aan water. Betogers het toe tydens ʼn beskermde optog na die munisipaliteit opgeruk om ʼn memorandum te oorhandig. Die optog het egter handuit geruk en die polisie moes in ʼn stadium met rubberkoeëls op betogers skiet om hulle in bedwang te bring.

Patrick Shika, woordvoerder van die Modimolle-munisipaliteit, het Vrydag aan Maroela Media gesê die munisipaliteit is bewus van die waterprobleem in Phagameng. “Die Donkerpoortdam is slegs 32% vol en daar is al die afgelope twee maande probleme met die watertoevoer na veral uitbereiding agt en nege van Phagameng,” het Shika gesê. “Soms is die aanvraag na water meer as wat verskaf kan word en dan loop die reservoir gereeld leeg. Die munisipaliteit verskaf gereeld water met tenkwaens.”

Hy het gesê die munisipaliteit werk saam met Magalies Water om vier boorgate in die omgewing te boor om beter waterverspreiding te verseker.

Die situasie in Phagameng. Foto: Johann Abrie (DA verteenwoordiger) Die situasie in Phagameng. Foto: Johann Abrie (DA verteenwoordiger) Die situasie in Phagameng. Foto: Johann Abrie (DA verteenwoordiger) Die situasie in Phagameng. Foto: Johann Abrie (DA verteenwoordiger) Die situasie in Phagameng. Foto: Johann Abrie (DA verteenwoordiger) Die situasie in Phagameng. Foto: Johann Abrie (DA verteenwoordiger)

Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!