Die kampusgeweld wat vlaag ná vlaag oor die land trek, het in ’n betreklike kort tydjie ’n weerstandskinkel bygekry. Op Tuks het AfriForum begin rug styfmaak, en by Kovsies het toeskouers ’n groep stakende werkers, maar in rooi geklee en dus waarskynlik EFF-ondersteuners, wat ’n rugbywedstryd ontwrig het, van die veld verwilder. Klippe is oor en weer geslinger.
Die jurie debatteer nog woes oor of die weerstandigheid ’n goeie of slegte ding is, of dit onafwendbaar is gegewe die omstandighede en of dit maar net die lont is van ’n veel groter moles. Uit lekkasies uit die juriekamer blyk dit dat wyduiteenlopende gedagtes gekoester word.
Wanneer die werke van Franz Fanon (1925 tot 1961) onder oë geneem word, kristalliseer ’n meesterskema uit van veral dit waarmee die EFF op kampusse besig is. Dit is veral die geval wanneer Fanon se werke wat uit Frans in Engels “vertaal” is, bestudeer word waar die parallelle baie sterk blyk. Die werke is nie net swak nie, maar skynbaar moedswillig swak vertaal. In die proses word Fanon as geweldsfilosoof onderliggend tot anargie geskets eerder as sy werklike ingesteldheid van dialekties gekant te wees teen niegewelddadigheid.
Fanon, ’n swart man wat op die eiland Martinique gebore is, is onder andere deur Marx en Sartre beïnvloed. Fanon was 18 toe ’n deel van die Franse vloot wat tot Martinique beperk was, ’n staatsgreep daar uitgevoer het en besonder rassisties teenoor die inwoners opgetree het. Hy self vlug van die eiland, en sluit by die Franse Weermag aan. Toe die Nazi’s verkrummel en sy eenheid Duitsland binnetrek, is die eenheid van alle nie-wit soldate gestroop, en elders heen verplaas. Die raskwessie sou voortaan met die klaskwessie in sy werke meeding. Hy het later in Algerië gaan woon en aan die Algerynse rewolusie deelgeneem.
Belangrik egter, is dat sy invloed na Suid-Afrika gestrek het, en onder andere Steve Biko sterk beïnvloed het. Die gedagte dat swart mense nie rassisties kan wees nie, word onregstreeks hiervan afgelei.
Maar hoekom het talle, veral liberale akademiese ontleders, die situasie aanvanklik so “misgelees”? Wie sal vergeet hoe die een ontleder ná die ander uit die dampkring van die Seunse Weenkoor gepleit het dat na die studente geluister moet word, dat daar geldige griewe is, dat die historiese en oorgangskonteks baie verklaar en dat daar ’n sterk element van verantwoordelikheid en redelikheid teenwoordig is?
Die eerste rede is eenvoudig dat dit nog aanvanklik met veral die #FeesMustFall-veldtog waar was. Die gevaartekens, soos die openlike steun vir die veldtog teen Afrikaans, is egter met selfopgelegde blindheid geslaan, al het verskeie instansies gewaarsku dat die situasie gaan uitrafel. Dit het ook as selfaangestelde drukgroep gedien vir akademici wat Afrikaans wou uitfaseer, en gevaartekens is daarom skynbaar nie verreken nie.
’n Tweede faktor is dat nie alle studente-opstande noodwendig deur die Engels-verwronge weergawe van Fanon gevoed is nie, maar dat die parallelle wat hom in die VSA in die dampkring van die grootliks onbevredigende uitwerking van “affirmative action” afspeel ook hier mildelik neerslag vind. Een van die manifestasies is dat swart mense daar wat hulle aan hul “shoe laces” optrek en uitstyg, dikwels deur diegene wat in die agtergeblewe siklus bly maal, ongeag “social engineering” deur die staat, verwyt en verwerp word. Hier, skyn dit egter, open dit bloot die weg vir die verwronge Fanon-idees en so word die EFF met ideologies-verwante groepe in pas gebring.
Omdat met ’n verwronge weergawe van Fanon gewerk word, is dit nie so maklik om die uiteinde te voorspel as aan die heethoofde se eise voldoen word nie. Gaan hulle tevrede wees, of gaan hulle net meer en nogmaals meer eise stel, en universiteite byna blywend onregeerbaar hou?
In die lig van die jongste voorvalle moet die vraag egter nou ook gevra word of die rugstyfmakery nie ook deeglik verreken moet word nie. Met die eerste Tuks-konfrontasie het Barnard Beukman, redakteur van Beeld, ’n ope brief aan Kallie Kriel van AfriForum geskryf waarin AfriForum oor die algemeen geloof word, ook vir die interdik teen Maties oor die taalkwessie, maar AfriForum vir die aanvanklike Tuks-rugstyfmakery gekritiseer is. Beukman meen dit skep in Afrikanergeledere, en selfs binne AfriForum, ’n weerstandigheid teen AfriForum se styl.
Dit lyk tans of aktiewe weerstand bied net die bottel effe vinniger gaan laat bars as om bloot passief teenwoordig te wees. By die ontwrigte Varsity-bekerwedstryd in Bloemfontein is daar ook geen aanduidings dat die toeskouers wat die oproermakers verwilder het, AfriForum-lede was nie, of beslis nie almal nie. Keelvolheid vir oproermakers het eenvoudig oorgekook.
Boonop hou AfriForum ook deurgaans die olyftak uit. Ná afloop van gesprekvoering van die Tuks-rektor het AfriForum byvoorbeeld gister ’n verklaring uitgereik wat die volgende bevat:
AfriForum het aangedui dat die organisasie daartoe verbind is om:
- te help om ʼn vreedsame oplossing vir die geskil te vind;
- die voortsetting van die akademiese program as hoofprioriteit te sien;
- deel te neem aan die raadplegingsproses oor die taalbeleid;
- skriftelike insette in die proses te lewer;
- goeie verhoudinge en wedersydse erkenning en respek tussen studente na te streef; en
- na die veiligheid en belange van die Afrikaanse studente om te sien.
AfriForum het ook die verteenwoordigende studenteraad (VSR) se uitnodiging om oor die saak te vergader aanvaar en verwelkom, maar dit betreur dat AfriForum Jeug se vroeëre versoeke om die kwessie met redelike gesprekke op te los, nie aanvaar is nie.
Boonop duur gewelddadige molesmakery ook op ander kampusse voort waar AfriForum geen rol speel nie. Die gebeure by Ikeys waar onder meer waardevolle skilderye en twee busse verbrand is en ’n petrolbom na die rektor se kantoor geslinger is, is nog vars in die nuus. Groot molesmakery gister by die UWK het net plek-plek die nuus gehaal. By die NWU het die bestuur die Studenteraad ontbind en bly die Mahikeng-kampus gesluit.
Om die situasie te pasifiseer gaan nou uiters moeilik wees. Eerstens probeer te veel ontleders die hele kwessie nog tot ’n klassekwessie beperk, en gee lang verduidelikings hoekom dit so dikwels nie die werklike arm studente is wat die pot roer nie, maar die kinders van bekende welgesteldes. By Tuks het die dogter van die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, byvoorbeeld op sosiale media haar wonde getoon waar die polisie haar met rubberkoeëls getref het. Sy is sekretaris-generaal van die EFF op Tuks.
Met die invloed van die verwronge weergawe van Fanon se opvattings moet ras egter as minstens een van die sentrale faktore in die oog gehou word. Dit manifesteer alte dikwels as naakte rassisme, al is dit volgens die oproermakers in beginsel nie rassisme nie omdat hulle swart is. En rassisme neig ten ene male om allerlei lonte aan die brand te steek.
Om hierdie rassisme vas te vat gaan egter veral nou moeilik wees omdat die ANC rassisme as hoeksteen van sy verkiesingstrategie inspan. En tot dusver is dit baie duidelik dat dit manifesteer as swart mense wat noodwendig die slagoffers is, en wit mense (bygestaan deur sogenaamde “coconuts”) as die rassistiese oortreders.
Vir die regering om bloot soos benodig en wanneer enorme skade reeds aangerig is die onlustepolisie en ander taakspanne in te stuur, is eenvoudig nie genoeg nie. Dit verg nou sterk politieke leierskap afgestem op geregverdigheid en grondwetlikheid, en nie net van die ANC nie maar alle politieke partye. AfriForum reken egter die EFF sal die pot bly roer as ’n soort propaganda met die oog op die verkiesing later vanjaar.
Die Tupamaro’s van Uruguay was in omstandighede wat nie veel van die huidige hier verskil nie, meesters van wat genoem is gewapende of gewelddadige propaganda.
Met ’n slaprug-regering wat boonop sku vir die grondwetlike regte van minderheidsgroepe is, word die saak van vrede nie gedien nie.
In ’n artikel op Netwerk 24 behandel prof. Amanda Gouws die kwessie vanuit die hoek van verdraagsaamheid. Sy beskryf verdraagsaamheid as ’n kernbegrip van demokrasie. “Dit is iets waarsonder vryheid van spraak baie moeilik kan bestaan. Dit is ook die kern van ’n ‘vrye mark van idees’.”
Die vraag is nou net hoe om groepe wat hul idees op ’n onverdraagsame manier op die grondwetlike regte van ander wil afdwing tot verdraagsaamheid oor te haal?