Minstens 12 skoolkinders is Maandagoggend in twee afsonderlike botsings in Johannesburg en Bloemfontein beseer.
Volgens Athlenda Mathe, woordvoerder van Netcare 911, is agt kinders beseer toe die minibustaxi wat hulle skool toe geneem het om 07:40 teen ʼn konstruksievoertuig in Zulustraat in Soweto gebots het.
“Altesaam 14 kinders was in die taxi toe die botsing plaasgevind het. Agt kinders het matige beserings opgedoen,” het Mathe gesê. Die beseerdes is met ambulanse na nabygeleë hospitale geneem vir verdere behandeling.
In Bloemfontein het twee minibustaxi’s, wat altesaam 28 skoolkinders vervoer het, by die oorgang van Harvey- en Valkweg gebots.
Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê slegs vier kinders het beserings opgedoen. “Die vier kinders, vermoedelik vyf jaar oud, is op die toneel behandel en na die Pelonomi-hospitaal geneem vir verdere behandeling,” het Meiring gesê.
Die oorsake van die botsings word ondersoek.