Zephany Nurse was net twee dae oud toe sy op 30 Maart 1997 uit die hospitaal verdwyn het. Die naam Zephany is aan haar gegee toe sy gebore is, maar die vrou wat haar grootgemaak het, het haar ʼn nuwe naam gegee.
Volgens die klagstaat het die vrou, wie se naam nie genoem mag word nie om Zephany se identiteit te beskerm, met Celeste, Zephany se ma, bevriend geraak en haar in die hospitaal oortuig om Zephany aan haar te oorhandig sodat sy kon slaap.
Toe die personeel Celeste later wakker gemaak het, het hulle haar ingelig dat haar babadogter vermis is. Ondanks ʼn landwye soektog na die dogter, is die kind eers verlede jaar gevind waar sy naby haar biologiese ma grootgeword het.
Zephany se biologiese suster, wat in dieselfde skool as sy was, het glo agtergekom dat die ouer meisie baie soos sy lyk. Haar ouers het agterdogtig geraak en die polisie genader. DNS-toetse het bewys dat die meisie inderdaad Zephany Nurse is wat al sedert 1997 vermis is.
Die vrou wat Zephany grootgemaak het, is kort daarna in hegtenis geneem.
Die verhoor is op die hofrol geplaas tot 10 Maart.