Klasse op die Hatfield-kampus van die Universiteit van Pretoria (UP) is Maandag opgeskort nadat betogers weereens die kampus bestorm en klasse ontwrig het.
Die universiteit het op sy Facebook-blad aangekondig dat lesings nie Maandag sal voortgaan nie. Klasse op die universiteit se Groenkloof-kampus gaan egter normaalweg voort. Die universiteit se woordvoerder was nie Maandagoggend onmiddellik vir kommentaar beskikbaar nie.
Ian Cameron, woordvoerder van AfriForum Jeug, het aan Maroela Media gesê dat lede van die EFF in alle Afrikaanse lesinglokale ingestorm het en klasse en toetse stopgesit het. Volgens Cameron het die EFF-groep later na die hof beweeg waar talle van hul lede verskyn het nadat hulle Vrydag in hegtenis geneem is vir openbare geweld en saakbeskadiging.
“ʼn Groot groep van die Afrikaanse studente staan nou hier buite op die kampus en wag. Ons het gehoor dat die EFF weer sal terugkeer na die kampus sodra die hofverskyning verby is. Hierdie [Afrikaanse] studente is nie bereid om die kampus net so agter te laat nie,” het hy gesê.
Die universiteit het vroeg Maandagoggend op sy Facebook-blad gesê die voorgestelde pad vorentoe is dat lesings slegs in Engels aangebied sal word en dat Afrikaans en Sepedi slegs gebruik sal word vir bykomende ondersteuning aan studente. “Om die taalbeleid te verander, is ʼn statutêre proses. Hierdie wysigings word deur die Senaat ondersteun en sal deur die raad oorweeg word. Enige verandering aan die taalbeleid sal ook aan die minister van hoër onderwys en opleiding voorgelê moet word.”
Intussen het ʼn student ʼn video aan Maroela Media gestuur waarop gesien kan word hoe die betogers met kampuspolisie bots. Op die beeldmateriaal kan gesien word hoe die betogers gewelddadig raak en omstanders te lyf gaan.
Die EFF se studenteverteenwoordiging het Maandag ʼn program vir die dag op sy Facebook-blad geplaas. Volgens die program sal hulle binnekort terugkeer na die kampus vir ʼn “massa-vergadering”. Die inskrywing is gemerk met die hutsmerke #AfrikaansMustFall, #AMF en #UPBlackMonday.
Altesaam 27 betogers is Vrydag in hegtenis geneem nadat hulle buite die hekke van die universiteit gewelddadig geraak, klippe na joernaliste en voertuie gegooi en polisievoertuie beskadig het.