Die wêreld se oudste president, Robert Mugabe van Zimbabwe, het Sondag sy 92ste verjaarsdag gevier, en daar is nog nie enige duidelik opvolger in sig nie.
Sy politieke bondgenote het versoek dat 21 Februarie as ʼn nasionale vakansiedag afgekondig moes word, maar opposisiepartye het dié idee verwerp en gewaarsku dat ʼn kultuspersoonlikheid bevorder word.
ʼn Groot partytjie ter waarde van $800 000 (meer as R12 miljoen) met ʼn 92 kg-verjaarsdagkoek, word vir volgende naweek in Masvingo beplan.
Beamptes van Zanu-PF het gesê die vieringe sal voortgaan, ondanks eise deur opposisiepartye om die partytjie te kanselleer een eerder die geld te gebruik om meer as 3 miljoen Zimbabwiërs kos te gee wat deur hongersnood in die gesig gestaar word weens die droogte.
Pupurai Togarepi, sekretaris van die Zanu-PF-jeugliga, het gesê Mugabe se verjaarsdag is soos Jesus Christus sʼn, aangesien “albei gestuur is om die mense te bevry”.
Die jeugliga het gesê die droogte is nie Mugabe se skuld nie, en daarom is dit “sinneloos” om te versoek dat sy partytjie gekanselleer moet word.
Talle bankrot staatbeheerde maatskappye het advertensies in die regeringsbeheerde Sunday Mail en op Zimbabwe se enigste televisiekanaal gepubliseer om Mugabe geluk te wens. “Dankie, Bob. Nou het ons ʼn stem. Sedert 1980,” lui die koerant se voorblad.
Zimbabwe het sedert onafhanklikheid in 1980 nog net een leier verkies.
Dit is nog nie dadelik duidelik waar die maatskappye die geld gekry het om vir die groot advertensies te betaal nie. Talle staatsbeheerde organisasies, wat deur korrupsie en onbevoegdheid verwoes is, het al jare lank nog nie volle salarisse betaal nie.
Die weeklikse koerant het ook ʼn lang onderhoud met Suid-Afrika se pres. Jacob Zuma gepubliseer waarin hy Mugabe as “baie slim” en “ʼn duidelike denker” beskryf het. “Pres. Mugabe se wye kennis, ervaring en betrokkenheid in politiek in Afrika en die wêreld maak hom vindingryk. Daar is so baie wat ons van hom kan leer en die leiers van sy generasie wat opgestaan het, hul eie lewens gewaag het, kolonialisme oorwin het en bygedra het tot die bevryding van die streek en Afrika,” het Zuma glo gesê. “Pres. Mugabe is ʼn lopende ensiklopedie en historiese argief vir ons streek en kontinent. As huidige president van die Republiek van Suid-Afrika het ek baie onvergeetlike oomblikke saam met hom.”
Politieke analiste het gesê Mugabe het geen duidelike plan om sy mag oor te gee nie, en die ekonomiese lot van die land, waaruit 4 miljoen persone al gevlug het, vererger.
Mugabe se ambisieuse vrou, Grace, word beskou as een van die aanspraakmakers om by haar man oor te neem. Maar sy ontken dat sy die amp wil oorneem, een gesê Mugabe sal steeds bly regeer, “al moet ek hom in ʼn kruiwa werk toe stoot”.
Grace het op 12 Februarie aangekondig dat haar man aan die 2018 presidensiële verkiesing sal deelneem.