Die deportasie van ʼn sieklike 92-jarige Suid-Afrikaanse vrou, wat deur haar enigste dogter in Engeland versorg word, is tydelik opgeskort.
Myrtle Cothill sou Dinsdag na Suid-Afrika moes vlieg nadat haar versoek om in Engeland te bly, afgekeur is, berig die BBC.
Meer as 75 000 persone het ʼn petisie onderteken waarin versoek is dat Cothill in die Verenigde Koninkryk kon bly.
Cothill se dogter, Mary Wills (66), en prokureur het gesê die departement van binnelandse sake het die deportasie nou tydelik opgeskort, terwyl hulle op nuwe mediese verslae wag.
Maroela Media het vroeër berig Cothill ly aan hartprobleme, sigverlies en gehoorprobleme en het geen familie in Suid-Afrika nie. Haar dogter versorg haar al sedert Februarie 2014 weens haar swak gesondheid. Ten spyte van dié gesondheidsprobleme het sy onlangs ʼn brief ontvang wat haar ingelig het om onmiddellik planne te maak om die land te verlaat nadat haar visumaansoek nie geslaag het nie.
Lees meer: BBC