Die vakbond Solidariteit wat werknemers van die Universiteit van Pretoria (UP) verteenwoordig en wat ook duisende oud-Tukkies as lede het, het vandag ʼn referendum oor die voorgestelde wysiging aan die UP se taalbeleid van stapel gestuur.
Dit volg nadat ’n UP-taakspan, na aanleiding van eise van die EFF, met voorstelle na vore gekom het wat Afrikaans radikaal sal verskraal en later uitfaseer. Kommentaar op die voorstelle kan tot 29 Februarie gelewer word.
Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, is die doel van die referendum om vir die Afrikaanse gemeenskap ’n platform te gee waarop hulle hul stem kan laat hoor. “Ons skep ’n ordelike platform wat nie klippe gooi en breek nie. Ons verwag dat duisende mense aan die referendum gaan deelneem. Ons kan nie toelaat dat ’n klein groepie rooihemp-anargiste die taalbeleid van die UP bepaal nie,” het Hermann gesê.
“Indien die UP aan die eise van die EFF-anargiste toegee, wag daar ’n toekoms van retirering van een eis na die ander vir die universiteit. Die geweld waarmee die eise gepaard gegaan het, het gewys dat nie net Afrikaans by die universiteit sal verdwyn nie, maar die totale institusionele kultuur,” het Hermann gewaarsku. “Dit is nie net Afrikaans wat by die venster uitgegooi word nie, maar ook die poste van Afrikaanse personeel. Die verwydering van Afrikaans is maar bloot ’n voorwaarde vir die begin van ’n totale transformasieproses wat ook die totale transformasie van die personeelsamestelling van die UP sal behels.”
Hermann het bygevoeg dis tragies as akademiese debat daal tot die gooi van klippe en brand van bande. “Deur aan dié soort vandalisme toe te gee, word die universiteit van sy akademiese karakter ontneem. Studente word geleer dat geweld, nie akademiese debat nie, die wêreld verander.”
Voortgesette druk van radikale groepe op die kampus het die uitvoerende komitee van die UP beweeg om Vrydag ’n kennisgewing aan studente en personeel te stuur waarin kommentaar versoek word oor die volgende voorstelle van ’n taalbeleid-taakspan:
• Engels moet die primêre onderrigtaal in alle lesings wees.
• Die Universiteit moet meertaligheid bevorder ten einde studentesukses te fasiliteer en maatskaplike samehorigheid te bou.
• Afrikaans en Sepedi moet gebruik word om addisionele ondersteuning aan studente in tutoriale, praktika en besprekings te bied.
• Oorgangsmaatreëls sal in plek gestel word indien die voorgestelde wysigings hierbo aanvaar word.
“Die voorstelle van die taakspan is ’n verskraling en uiteindelik totale uitfasering van Afrikaans,” het Hermann verduidelik. “Die Afrikaanse gemeenskap kan nie toelaat dat Afrikaans deur die universiteit of aktiviste geboelie word nie. Ongelukkig reageer die universiteit deur te kyk na die magsbalans en nie na goeie argumente nie. Die Afrikaanse gemeenskap sal tot 29 Februarie dus aktief moet organiseer om te toon dat tienduisende studente, oudstudente en lede van die Afrikaanse gemeenskap die voorstelle van die taakspan verwerp.”
Studente, oudstudente, ouers en ondersteuners van Afrikaans kan deelneem aan die referendum by www.tuksreferendum.co.za. Die uitslag van die referendum en volledige kommentaar sal voor 29 Februarie aan die Universiteit van Pretoria oorhandig word.