
Zimbabwiese magte hou wag oor die vliegtuig op Harare Internasionale Lughawe (15 Februarie 2016) Foto: AP Photo/Tsvangirayi Mukwazhi
Zimbabwiese owerhede het uiteindelik ʼn vragvliegtuig, met 67 ton kontantnote ter waarde van miljarde rand, vrygestel, maar nie die identiteit van die lyk wat op die vliegtuig gevind is, bekend gemaak nie.
Die McDonnell-Douglas MD-11-vliegtuig is op 14 Februarie geskut toe dit op Harare Internasionale Lughawe geland het om brandstof te hervul. Die vliegtuig was van München, Duitsland, onderweg na Durban, KwaZulu-Natal. Werknemers van die lughawe het bloed uit die vliegtuig sien drup.
Die ten volle geklede liggaam van ʼn swart man is in ʼn kompartement gevind, maar weens gevorderde ontbinding, kon ʼn forensiese patoloog nie bepaal hoe en wanneer die man dood is nie.
Charity Charamba, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn nadoodse ondersoek het bepaal dat die man versmoor het.
Die polisie vermoed nie vuilspel nie en die man het glo sonder enige inwendige beserings op die vliegtuig geklim. Dit is nog nie duidelik waarom enigiemand in Duitsland homself op ʼn vliegtuig, onderweg na Afrika, sou versteek nie. ʼn Bron, ʼn persoon wat naby aan die ondersoek is, het gesê ondersoekbeamptes kon nie vingerafdrukke bekom nie. “Die liggaam was oortrek met maaiers. Dit was onmoontlik om vingerafdrukke te kry,” het die persoon gesê.
Die internasionale polisie-organisasie, Interpol, het intussen ʼn verklaring uitgereik aan polisiemagte in Duitsland, België, Uganda, die Ivoorkus en Nigerië om hulle te help om die man se identiteit en nasionaliteit te bepaal.
Die vliegtuig van die Amerikaanse lugredery, Western Global Airlines, het Vrydagaand uiteindelik uit Harare opgestyg onderweg na Suid-Afrika. Die geld, wat in Münich gedruk is en bestem was vir Durban, behoort aan die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB).
Dramatiese besonderhede van diplomatieke bewegings wat tot die vreedsame oplossing van die voorval gelei het, het intussen aan die lig gekom. Vusi Mavimbela, ambassadeur vir Suid-Afrika in Zimbabwe, het verlede Sondag hom na die lughawe gehaas, maar kon nie ʼn vinnige deurbraak maak nie. Die SARB het die volgende dag ʼn verklaring uitgereik om te sê dat die sentrale bank daarna uitsien om die besending in ontvangs te neem.
Staatsamptenare in Pretoria het aangebied om soldate van die Suid-Afrikaanse Weermag te stuur om oor die vliegtuig en die “kosbare diplomatieke besending” wag te hou, maar dié voorstel is deur die Zimbabwiese owerhede verwerp, volgens bronne.
Owerhede in Pretoria was veral angstig, aangesien die uitsaaiowerheid in Zimbabwe ʼn paar dae vantevore berig het oor ʼn smokkelsindikaat by Harare-lughawe waarby soldate, die polisie en immigrasiebeamptes betrokke was.
Korrespondensie tussen Pretoria en Harare het ook nie enige vrugte afgewerp nie en die Zimbabwiese owerhede het daarop aangedring dat ʼn deeglike ondersoek gedoen moet word oor die moontlike “delikate moordsaak” van internasionale omvang.
Owerhede in Harare het bygevoeg dat die goedere op die vliegtuig geskandeer moet word, om te verseker dat die vrag wel kontant is, en nie iets anders nie.
Ondersoekbeamptes het uiteindelik bevestig daar is geen verband tussen die vrag en die lyk aan boord nie.