ʼn Huishulp en haar kêrel is Vrydag in Sydenham, Durban, in hegtenis geneem op aanklag van diefstal, die onwettige besit van vuurwapens en vermoedelik gesteelde eiendom.
“Die vrou, wat as ʼn huishulp by ʼn huis in Howellweg gewerk het, het vroeër vandeesmaand glo haar werkgewer se vuurwapens en juwele gesteel,” het brig. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, in ‘n verklaring gesê.
Toe die werkgewer ontdek die eiendom word vermis, het sy die saak by die polisie aangemeld. “ʼn Saak van diefstal is by Sydenham-polisiestasie aanhangig gemaak,” het Naicker gesê. “Die ondersoekbeampte se ondersoek het hom tot Inanda gelei waarheen die verdagte gevlug het. Sy is in hegtenis geneem en het die polisie na haar kêrel se huis geneem waar die gesteelde goedere gevind is.”
Die polisie het beslag gelê op die gesteelde juwele, 9 mm-pistool, ʼn rewolwer en 49 rondtes ammunisie. Die kêrel is dadelik deur die polisie in hegtenis geneem. “Albei verdagtes sal na verwagting Maandag in die Durbanse landdroshof verskyn.”