Altesaam 10 mense is die afgelope week in KwaZulu-Natal oorlede nadat weerlig hulle getref het.
Sewe persone is in KwaMachi naby Harding in die Umuziwabantu- plaaslike munisipaliteit dood, het Nomusa Dube-Ncube, LUR van provinsiale samewerkende regering en tradisionele sake, gesê. Nog drie persone is dood en dosyne beseer toe ʼn haelstorm die gebied in die nabygeleë uMzimkhulu-munisipaliteit getref het.
Volgens Dube-Ncube is ongeveer 80 huishoudings deur die storms geraak. ʼn Span onder leiding van die plaaslike burgemeester, Mphuthumi Mpabanga, doen deur-tot-deur-besoeke om bystand te lewer.
Sy het haar medelye met die betrokke families betoon en gesê dat nog weerligafleiers in die gebied opgerig moet word.
“Ons wil die publiek verseker dat hulle nie natuurlike rampe hoef te oorleef sonder ʼn helpende hand van die provinsiale regering nie,” het Dube-Ncube bygevoeg.