Carl van der Merwe, Booysen se regsverteenwoordiger, het bevestig dat sy kliënt aangekla is en het gesê Booysen sal Vrydag in die hof verskyn.
Volgens Van der Merwe het Shaun Abrahams, die nasionale direkteur van openbare vervolging, besluit om weer aanklagte van rampokkery en korrupsie teen Booysen in te stel. Van der Merwe het gesê Abrahams het die sertifikate uitgereik wat magtiging gee vir die vervolging van Booysen.
Booysen is in Augustus 2012 deur die waarnemende hoof van openbare vervolging, Nomgcobo Jiba, aangekla. “Abrahams het presies dieselfde sertifikate [as Jiba] uitgereik,” het Van der Merwe gesê.
Luvuyo Mfeka, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het die aanklagte Woensdag in ʼn mediaverklaring bevestig.
Booysen is aangekla saam met lede van die voormalige Cato Manor-eenheid vir ernstige en gewelddadige misdade dat hulle glo betaalde huurmoorde tydens die KwaZulu-Natal taxi-geweld uitgevoer het. Jiba het in haar hofaansoeke gesê die eenheid het soos ʼn georganiseerde misdaadorganisasie opgetree.
Booysen het deurentyd skuld op die aanklagte ontken. Regter Trevor Gorven het in 2014 in die hooggeregshof in Durban die saak uitgegooi en gesê die aanklagte het nie eers aan die minimum vereistes vir vervolging voldoen nie.
Abrahams se besluit om Booysen te vervolg kom kort ná ʼn onlangse besluit deur die hooggeregshof om Booysen se skorsing ter syde te stel nadat genl.maj. Berning Ntlemeza, die nasionale hoof van die Valke, hom van bedrog beskuldig het.
Regter Anton van Zyl het gesê daar is nie prima facie- bewyse dat die bedrog gepleeg is of dat Booysen daarby betrokke was nie. Ntlemeza het vroeër vanjaar aansoek gedoen om teen die uitspraak te appelleer, maar dit is van die hand gewys. Hy het nou die appèlhof genader.
Die voormalige lede van die Cato Manor-eenheid sal glo Vrydag saam met Booysen in die hof verskyn.