Tau het hom vererg toe John Steenhuisen, die DA se hoofsweep, gesê het hy praat “nonsens” toe hy beslis het ʼn aanmerking deur Mosiuoa Lekota, die leier van Cope, oor politiese faksies is onparlementêr.
Steenhuisen het vir Lekota opgekom en Tau daarvan beskuldig dat hy bevooroordeeld is jeens die opposisiepartye. “Jy praat nonsens,” het Steenhuisen gesê en geweier om die aanmerking terug te trek toe Tau hom beveel om dit te doen.
Mmusi Maimane, DA-leier, het Steenhuisen verdedig wat nog twee keer sy aanmerking herhaal het. Tau het hom beveel om die vergadering te verlaat en Steenhuisen het gesê, “Gelukkig hoef ek nie na jou nonsens te luister nie”, voordat hy uitgestap het.
In reaksie op hierdie aanmerking het die DA-koukus opgestaan en vir Steenhuisen hande geklap. Tau het gereageer deur te sê hy het geen ander keuse as om die DA te vra om die vergadering te verlaat nie.
Stone Sizani, die ANC se hoofsweep, het voorgestel dat al die partye se hoofswepe vergader om die saak op te los.
Nqabayomzi Kwankwa, LP van die United Democratic Movement, het Tau gevra om redelik te wees en gesê Lekota het nie die waardigheid van ʼn LP aangetas nie aangesien hy nie na ʼn spesifieke individu verwys het nie.
Wilmot James van die DA het Tau daaraan herinner dat nóg die woord faksies nóg nonsens onparlementêr is.
Kwankwa het benadruk dat die publiek die debat op televisie volg en dat daar moontlik ʼn persepsie van bevooroordeling geskep kan word. “Ons wil nie hê mense moet dink dat ons reëls vir die DA en die EFF het nie,” het hy gesê.
Tau het volgehou dat hy beledig voel deur Steenhuisen se aanmerking en het toe ontken dat hy aan die DA gesê het om die vergadering te verlaat. “Ek het gesê die DA se gedrag sal my met geen keuse laat as om hulle te vra om die vergadering te verlaat nie,” het hy gesê.
Mike Walters van die DA het aan Tau gesê om die klankopname van die vergadering na te gaan om te hoor wat hy gesê het.
Die debat het kort na 17:00 tydelik verdaag.
Lees alle vorige berigte oor Staatsrede 2016 op Maroela Media.